MONTAGU – Die negejarige seun van Gwarrielaan, Ashbury, wat sedert 4 Mei vermis was, is Maandag (9 Mei) enkele kilometers van die naaste woonhuise in ’n kloof lewend deur twee mans wat by ’n familielid op die plaas Baden wou gaan kuier, gevind.
Diego Adonis (9) het verlede week na bewering saam met ’n maatjie voor hul huis in die pad met ’n bal gespeel.
Later het die twee glo in die pad af geloop, waarna die maatjie huis toe is en Diego na bewering by die winkel op die hoek in dieselfde pad waar hy woon, gaan sit het. Dit was die laaste keer dat hy gesien is.
Maandag laatmiddag het dit rugbaar geword dat die seun deur twee mans wat hout in die veld naby die Ashburywoongebied bymekaargemaak het, gevind is.
Freek Moses (40) en sy oom Sarel (61) van Botterboomlaan, Ashbury, sê hulle was Maandagmiddag omstreeks 12:30 op pad na sy broer, Willem Klaasen, wat op Baden woon.
Standard het die twee helde by hul woning in Botterboomlaan besoek.
Volgens Freek loop hulle gewoonlik sommer deur die veld, oor heuwels en deur klowe, omdat die afstand vir hulle “korter” is as wat hulle teerpad langs sou loop.
Freek vertel hulle het op pad na sy broer toe twee onbekende seuns in ’n kloof raakgeloop. Hulle het “krummels” van gwarriebosse opgetel.
“Een vra toe vir my ‘Oom, werk dié goed vir tuingrond?’ Ek sê toe ja, dit werk; jy meng dit met die grond. Dit hou die grond nat. So het ons hulle gelos.”
Freek sê nadat hulle ’n entjie verder in die kloof op gestap het, het hy iets gehoor.
“Ons was net so ’n entjie die kloof in toe ek ’n geluid hoor. Ek sê toe vir Oompie hy moet gou stilbly; dit klink my hier bo iewers is iets.”
Hulle het egter niks gesien nie en verder geloop en effens uit die kloof uit beweeg.
“Ons het net uitgeskuif, toe loop ons op ’n rif. Oompie sien toe aan die ander kant van die kloof is daar ’n blou skynsel deur ’n bossie.
“Ons bly staan toe en kyk. Ek sê toe: ‘Dis mos die klonkie wat hulle sê met die blou … die broekie en die toppie wat hy aan het. Die linkerkantse beentjie was hoog kaal,” vertel Freek terwyl sy oom, Karel, alles beaam.
Volgens Freek het hulle met die seun probeer kommunikeer, maar nie veel reaksie gekry nie. “Ons roep toe na hom en vra of daar mense by hom is, maar hy kan mos nie praat nie. Ek sê toe vir Oompie ons moet hom eers los, dan loop ons gou eers deur.”
Hulle was onder die indruk daar is iewers mense in sy nabyheid. Hulle is toe vort Baden toe. Plek-plek het hulle gedrafstap om gouer na die seun terug te keer, sê Freek.
Hulle het nie lank by sy broer Willem op Baden vertoef nie. Willem het besluit om saam met hulle terug te loop.
Met hul terugkeer na die plek waar die seun was, kon hulle hom aanvanklik nie kry nie. “Ek was voor my oompie op die plek waar hy gesit het, aan die bokant. Ek hoor toe weer ’n geluid. Toe sien ek die seuntjie. Hy het teen die skuinste afgegly,” vertel Freek.
Volgens hom het hy die seun opgetel en in sy werksoorpak se baadjie toegedraai. Hy en sy Oompie het hom toe om die beurt tot by hul huis gedra, waarna hulle die polisie gekontak en die kind aan hulle oorhandig het.
Die seun is op die ou einde in die plaaslike hospitaal opgeneem en sedertdien is sy moeder, Sanna Adonis, elke minuut langs sy hospitaalbed.
Standard het probeer om meer oor die seun se welstand uit te vind, maar ons telkens teen hospitaalbeleid vasgeloop, wat bepaal dat geen mediese inligting van pasiënte aan die algemene publiek of media verskaf mag word nie.
Gedurende besoektyd Dinsdag (10 Mei), het Standard die seun en sy moeder in die hospitaal gaan besoek.
Ofskoon die moeder duidelik baie bly is dat sy weer haar kind kan vashou en sy nie kon ophou glimlag nie, is haar seun, volgens haar, nog baie broos en benodig hy baie rus.
Sy het nietemin haar opregte dank en waardering teenoor almal wat haar in die moeilike tyd bygestaan het, uitgespreek – die gemeenskap en almal wat aan die soektog na haar kind deelgeneem het.
Sy is in die besonder dankbaar vir Freek en oom Sarel wat Diego opgespoor het.
By navraag aan die polisie oor die aangeleentheid het sers. Charlton Koopman, die ondersoekbeampte van die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe van Worcester, hom as volg uitgelaat: “Hoewel die kind teruggevind is, is die navraagdossier nie afgesluit nie.
“Die ondersoek duur voort en alle inligting en leidrade word steeds opgevolg. In hierdie stadium van die ondersoek word egter geen misdaad vermoed nie, maar soos ek sê, die ondersoek gaan voort.”




