Granville Louw was vir amper ses maande vermis voordat sy familie om opgespoor het. Foto:


’n Man wat verlede Julie vermis geraak het, se familie het hom uiteindelik in Januarie opgespoor.

Die Bonnievale-boorling, Granville Louw (26), se ma, Gertruida, het hom op 12 Julie laas gesien. Hy is meer as ’n dekade gelede as bipolêr gediagnoseer en volgens sy ma was hy ten tyde van sy verdwyning in die middel van ’n maniese episode. Dit was glo ook nie die eerste keer dat hy van die huis af weggeloop het nie. Die vorige keer het hy na sy pa in die Kaap geryloop en het hierdie keer dieselfde gedoen.

Met sy aankoms in die Kaap is Granville egter deur die polisie in hegtenis geneem.

“Daar waar die mense hom afgelaai het, het hy iemand langs die pad vir ’n lighter gevra. Daai persoon het ook glo dagga by hom gehad. Met dit het die polisie by hulle gestop. Die ander man was toe glo iemand na wie die polisie ’n geruime tyd gesoek het. Granville is saam met hom in hegtenis geneem. Hy het nie eens sy ID by hom gehad nie. Hy is later van huisbraak in die Kaap aangekla.”

Gertruida en haar familie het egter op 4 Januarie uitgevind waar Granville hom bevind.

“Vriende my, wat naby sy pa woon, het my op 4 Januarie gebel en gesê hulle sien hom in die buurt. Sy pa het hom die aand van vierde teruggebring Bonnievale toe.

“Toe ek die nuus ontvang dat hy gesien is, het dit gevoel dis ’n wonderwerk. Die polisie het hom die dag tevore vrygelaat.

“Ons het was drie keer in die hof en die saak is genadiglik op 17 April teruggetrek,” verduidelik sy ma.

Gertruida sukkel nou egter tuis met haar seun as gevolg van sy geestesiekte.

“Hy is stapelgek. Hy loop heeldag op en af. Hy doen die snaaksste goed en is aggressief. Hy maak ons darem nie seer nie. Hy kry elke tweede week ’n inspuiting vir die mediese toestand, maar hy is ook verslaaf aan dagga.

“Die dagga, lyk dit my, veroorsaak dat die medikasie nie werk nie. Ek is uitgeput. Niemand help nie,” vertel sy moedelose ma.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article