Die 2024-’25- munisipale begroting is Dinsdag 21 Mei deur die raad van Breedevallei-munisipaliteit (BVM) goedgekeur en volgens die BVM bevat hierdie begroting vele hoogtepunte waarby inwoners sal baat vind.
Operasionele en kapitaalbegroting
Die totale begroting bestaan uit R1, 81 miljard, wat verdeel word in R1, 617 miljard vir die operasionele begroting en R187, 4 miljoen vir die kapitale begroting.
Wat die operasionele begroting betref, is die samestelling hiervan deur die volgende beginsels gelei: huidige struktuur bly soos wat dit is; geen nuwe poste nie; geen nuwe tydelike kontrakte nie; openbarewerke-program (EPWP)-werkers wat gebruik word as alternatief vir gevalle waar daar ’n personeeltekort is; die hersiening van bystand- en oortydbetalings; beperkte (en in baie gevalle geen) reis- en verblyftoelae; die doeltreffende benutting van interne personeel in plaas van die gebruik van eksterne kontrakteurs; en die huur van toerusting wat tot uiterste gevalle beperk word.
Gemiddelde verhogings
Die verhogings in die begroting is in lyn met die huidige inflasiesyfer – met eiendomsbelasting wat 5,78% styg, water wat met 5,78% styg, sanitasie wat met 5,89% styg, en vullisverwydering wat met 5,78% styg.
Elektrisiteit styg ingevolge die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) se riglyn met 11,04% wat landswyd gehef word.
Kortings vir deernishuishoudings wat werkloos is
Vir deernishuishoudings is die huishouding se maandelikse drumpel van R4 500 verhoog tot R5 000 en kwalifiseer huishoudings waar die gesamentlike huishouding se inkomste minder as R5 000 is vir die deernissubsidie.
Deernishuishoudings kwalifiseer vir ’n 50%-afslag op vullisverwydering; 100% gratis huishuur van ’n munisipale huureenheid; 50% afslag op sanitasie; gratis 50 kWh elektrisiteitseenhede; gratis 10 kiloliter water per maand; en ’n 50%-afslag op eiendomsbelasting indien die waarde van hul eiendom minder as R270 000 is.
Kortings vir pensioenarisse
Pensioenarishuishoudings word weer eens ook aan die hand gevat en mense van 60 jaar en ouer wat pensioen of ongeskiktheidstoelaes ontvang, waar die huishouding se gesamentlike pensioeninkomste minder as R5 000 is, kwalifiseer vir: 100% afslag op vullisverwydering; 100% gratis huishuur van ’n munisipale huureenheid; 100% gratis sanitasie; gratis 50 kWh elektrisiteitseenhede; gratis 10 kiloliter water per maand; en ’n 100%-afslag op eiendomsbelasting indien die waarde van hul eiendom minder as R400 000 is.
Nuwe kategorie deurnissubsidie
In vanjaar se begroting is daar dan ook ’n nuwe kategorie van deurnissubsidies bygevoeg.
Pensioenarisse wat 60 jaar en ouer is, asook mense wat ongeskiktheidstoelaes ontvang en wie se inkomste tussen R5 001 tot R6 000 is, sal nou ook kwalifiseer vir ’n deernissubsidie, met ’n 20%-korting op riool en vullis; ’n 20%-korting op eiendomsbelasting (maksimum waardasie tot R400 000); 10 kiloliter water en 50 kWh gratis elektrisiteitseenhede.
Kortings vir persone ouer as 65 jaar, ongeag inkomste
In vanjaar se begroting word die belastingkorting vir senior burgers van 70 jaar tot 65 jaar verlaag. Persone van 65 jaar en ouer wat meer as R5 000 per maand verdien, kwalifiseer vir 100% afslag op die waarde van die eerste R400 000 van hul primêre wooneiendom.
Hoogtepunte in begroting
Die begroting sluit verskeie hoogtepunte op vele terreine in, waaronder (in alfabetiese volgorde):
. Behuising
R14, 6 miljoen vir die aanlê van elektrisiteit na die Transhex-behuisingsontwikkeling; en R6 miljoen vir die opgradering van munisipale huureenhede.
. Brandweer
R9, 35 miljoen vir die aankoop van nuwe brandweervoertuie.
. Elektrisiteit
R14, 3 miljoen vir die opgradering van die Robertsonpad-substasie; R8 miljoen vir die opgradering van Touwsrivier en De Doorns se elektrisiteitsubstasies; R4, 2 miljoen vir die installering van sonpanele by munisipale geboue; en R1, 5 miljoen vir die aanbring van hoë masligte in Wyk 8 en Wyk 20.
. Industriële ontwikkeling
Geld vir die voorafstudies vir die aanlê van water-, riool-, stormwater- en elektrisiteitsaansluitings by die beoogde Drostdypark- industriële gebied agter die hondehokke op die Rawsonvillepad.
Geld vir die voorafstudies vir die aanlê van water-, riool-, stormwater-, pad en elektrisiteitsaansluitings by die beoogde Uitvlugt- industriële gebied agter HexTex.
. Paaie
R26, 2 miljoen vir die opgradering van gruispaaie in Wyke 1 tot 4, 16 tot 18 en 21; R5, 9 miljoen vir die opgradering van die industriële gebied se gruispaaie; R2, 5 miljoen vir die herseël van paaie in Wyke 10 tot 13 en 15.
. Riool
R3 miljoen vir die opgradering van die rioolnetwerk; R36, 2 miljoen vir die opgradering van Touwsrivier se rioolwerke; R800 000 vir die aankoop van kragopwekkers by rioolpompstasies; R1 miljoen vir die beveiliging van rioolpompstasies; en R2 miljoen vir die opgradering van rioolpompstasies.
. Sport
R2, 3 miljoen vir die opgradering van die Fanie Otto-sportgronde; en R1, 5 miljoen vir die opgradering van die Rawsonville-sportgronde.
. Water
R10 miljoen vir die voorafstudies vir die verhoging van die Stettynskloofdam; en R3 miljoen vir die kraakproses vir pyplegging (alle wyke).
Kenmerke van die 2024/25-begroting is dus die verhoging van die inkomstedrempel vir deernishuishoudings van R4 500 na R5 000; die inwerkingstelling van ’n nuwe kategorie by die deernissubsidie vir pensionarisse van ouer as 60 wat se inkomste tussen R5 001 en R6 000 is; die verlaging van die ouderdomsperk van die belastingkorting vir senior burgers vanaf 70 na 65 jaar; asook die verhoging van die belastingkorting vir senior burgers tot die waarde van die eerste R400 000 van hul primêre woonhuis se waarde.
Antoinette Steyn, BVM-burgemeester, sê daarbenewens is daar ook vele hoogtepunte vir behuising, die brandweer, elektrisiteitsvoorsiening, industriële ontwikkeling, verbetering van die pad- en rioolinfrastruktuur, sportontwikkeling en watervoorsiening.
“Hierdie begroting is dus opgestel met die doel om inwoners van Breedevallei te help, en Breedevallei verder as Suid-Afrika se voorste Sorgstad te ontwikkel.”



