Hy was 17 jaar oud en nog op skool toe hy sy linkerbeen verloor nadat hy in bende-kruisvuur beland het.

Kort hierna het hy in depressie verval en in die wurggreep van dwelms beland omdat hy onder die wanindruk was dit sou die pyn verlig.

Vandag is Bennevin Hoorn (27) van Roodewal in Worcester betrokke by die geestelike organisasie HOPE waar hulle diegene wat trauma ervaar het of aan erge alkohol- en of dwelmverslawing ly probeer bemoedig.

Volgens Hoorn het sy nagmerrie op 2 Augustus 2013 begin toe hy ná sons-ondergang winkel toe gestap het om slaptjips vir sy pa te koop.

Hy sê toe hy terugkeer huis toe, het hy vuurwapenskote hoor afgaan. Volgens Hoorn wou hy beskerming agter ’n kragboks kry.

Hy sê nog voor hy die kragboks kon bereik, het hy besef hy is in sy linkerbeen gewond. Volgens Hoorn het hy nog ’n paar treë verder gehardloop waarna hy inmekaargesak het.

Hoorn sê iemand wat aan hom bekend is, het met sy motor langs hom stilgehou en met hom na die Worcester-hospitaal gejaag. Volgens hom is hy dieselfde aand nog na die Tygerberg-hospitaal oorgeplaas.

Hy sê toe hy die volgende aand in die Tygerberg-hospitaal wakker word, was hy geskok toe hy sien sy linkerbeen is van bokant sy knie geamputeer. “Ek kon dit nie glo nie. “Ek was kwaad vir myself en die wêreld.”

Hoorn sê hy het sowat ’n maand in die Tygerberg-hospitaal deurgebring waarna hy oorgeplaas is na Worcester-hospitaal waar hy nog drie weke deurgebring het.

Volgens hom is hy in 2014 – dié keer in ’n rolstoel – terug skool toe.

Hoorn sê hy het depressief begin raak. Volgens hom het mense gedurig na hom gestaar en was daar ook diegene wat gemeen het hy hoort in ’n rolstoel omdat hy “gruwelik” was.

Volgens Hoorn het hy nie aan ’n bende behoort nie. Elke dag was vir hom ’n uitdaging. Hy sê hy het homself aanhoudend afgevra: “Hoekom met my? Hoekom dan nou? Ek het nog nie eens my hele lewe geleef nie, en dit gebeur met my.”

Hy sê as gevolg van sy depressie en mense se negatiewe kommentaar oor sy toestand het hy besluit om nie weer terug te gaan skool toe nie.

Volgens Hoorn kon niemand die pyn wegneem nie. Hy sê hy het hom toe tot dwelms gewend omdat hy gedink het dit sou dalk sy pyn verlig.

Uiteindelik het hy besef sy dwelmgebruik was ’n verkeerde besluit omdat dit hom tot in die afgrond gedryf het.

Hy sê hy wou opgee omdat hy op ’n laagtepunt in sy lewe was.

Hoorn sê op ’n dag in 2014 het ’n lid van die Overvallei-sportklub vir mense met liggaamlike gestremdhede hom genader en gevra of hy sou belangstel om by die klub aan te sluit. Die klub fokus op rolstoel-basketbal.

“Ek was verbaas, want ek weet ek kan nie speel nie omdat ek ’n ledemaat verloor het.”

Volgens hom het hy nietemin by die klub aangesluit en is nie vir een oomblik spyt daaroor nie.

Volgens Hoorn het hy onmiddellik met fisioterapie by die Worcester-hospitaal begin nadat hy daar navraag gedoen het oor die moontlikheid van ’n kunsbeen.

Sy mates vir ’n kunsbeen is later by die Conradie-sorgsentrum in Pinelands geneem.

Hoorn sê die kunsbeen het hom in staat gestel om weer dinge te doen wat voorheen vir hom onmoontlik was toe hy rolstoelgebonde was. Volgens hom was hy sowat een en ’n half jaar rolstoelgebonde.

Hy sê sy familie het hom baie ondersteun en “daar was baie gebede vir my lewe”. Hy sê hy is dankbaar vir dié mense.

Hoorn meen hy moes egter ook vir professionele berading gegaan het omdat hy nog steeds skrik wanneer daar iets hard afgaan.

Hy sê toe hy uit die hospitaal terugkeer huis toe het hy vuurwapenskote hoor afgaan. “Ek het aanhoudend gehuil, maar dit het beter geraak.”

Hoorn sê voor die skietvoorval het hy rugby en vlakkie-krieket gespeel. Hy sê dit het hom diep geraak toe hy nie langer sy gunsteling-sport kon beoefen nie.

Volgens hom het hy vandag ’n positiewe uitkyk op die lewe. Hy sê die rolstoel-basketbal – onder leiding van eerw. James Davids – het sy selfbeeld ’n reuse-hupstoot gegee.

Hoorn sê met trots dat hy die Here in sy lewe aangeneem het.

“Niks kan my nou onderkry nie, want ek wil vorentoe beweeg in my lewe.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article