Twee mans is onlangs lewenslange tronkstraf weens verkragting opgelê.
Thulani Nongwana (33) is aangekla van verkragting, ontvoering en aanranding met die doel om ernstig te beseer. Die voorval het op 3 September in Zwelethemba plaasgevind.
“Die beskuldigde het die klaer by ’n taverne in Zwelethemba gesien. Sy het egter sy toenadering verwerp en hy het haar later agtervolg. Die beskuldigde het toe die klaagster aan die arm gesleep en haar langs die pad met die vuis in die gesig aangerand. Hy het haar na ’n huis gesleep waar hy haar weer aangerand en toe verkrag het. Hy het gaan slaap en die klaagster styf vasgehou en haar ná ’n paar uur weer verkrag,” lui die hofdokumente.
Die 25-jarige slagoffer het ’n klagte by die polisie aangemeld. Nongwana het egter in die Kaap gaan wegkruip toe hy hoor die polisie soek hom. ’n Paar weke later het hy uiteindelik na Worcester teruggekeer en is toe in hegtenis geneem.
Sy vonnis is op 9 Mei soos volg opgelê:
. Aanklag 1: Ontvoering – 5 jaar gevangenisstraf;
. Aanklag 2: Aanranding met die doel om ernstig te beseer – 2 jaar gevangenisstraf; en
. Aanklag 3 en 4, ingevolge art 3, Wet 32/07 (2 aanklagte van verkragting): Gevonnis tot lewenslange gevangenisstraf met die hof wat geen dwingende rede bevind het om van die minimum vonnis af te wyk nie.
Ivan Wentzel (45) is op 8 Mei gevonnis nadat hy ’n 14-jarige op 16 November 2015 verkrag het.
“Die minderjarige klaagster was ten tyde van die voorval ’n pleegsorgkind. Die beskuldigde was goed bekend aan haar en sy het hom as ’n vaderfiguur beskou. Hy het haar na die woonwa op die perseel geroep waar hy haar oorval en verkrag het. Hy het vir haar gesê hy sal haar elke Vrydag R50 gee as sy nie vir sy vrou sê nie. Die slagoffer het toe die verkragting die volgende dag by haar niggie aangemeld, wat tot die beskuldigde se inhegtenisneming gelei het.”
Verder het Erica Ntabazalila, ’n woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag, gesê hulle verwelkom die vonnisse.
“Die Wes-Kaapse direkteur van openbare vervolging, advokaat Nicolette Bell, het die ondersoekspan en advokaat Quinton Oosthuizen geprys vir hul volharding om geregtigheid vir die slagoffers van hierdie gruwelike misdade te verseker.”


