Nadat hy haar “gewelddadig verkrag het”, het sy op haar knieë deur ’n wingerd gekruip en onder ’n vragmotor geskuil totdat haar vriende op haar afgekom het.
Streeklanddros Clifton Maseti het Sabelo Ntamehlo (41) van Ashton verlede Dinsdag (28 Januarie) altesaam 30 jaar tronkstraf vir verkragting opgelê, waarvan vyf jaar opgeskort is.
Die vonnis spruit uit ’n voorval op 2 September 2021 toe die klaagster en nog iemand, wat goed aan haar bekend is, vir vriende by die Vastrap Werskersherberg naby Ashton gaan kuier het om gesellig te verkeer.
Die vriende van die klaagster was padwerkers wat tydelik in Vastrap gewoon het. Ntamehlo, wat aanvanklik nie deel van die geselligheid was nie, het later by die groep aangesluit.
Hy en die klaagster was op een tydstip alleen om die vuurtjie. Sy het egter besluit om huiswaarts te keer omdat sy die volgende dag nog moes gaan werk.
Terwyl die klaagster in die rigting van ’n donker pad gestap het, het Ntamehlo haar agtervolg en aan die arm gegryp.
Hoewel sy haarself van hom losgeruk het, het haar aanvaller haar nietemin tot by ’n nabygeleë bushalte gedwing, waar hy haar “gewelddadig” verkrag het terwyl hy besig was om haar te wurg.
Die klaagster het ná die voorval daarin geslaag om te ontsnap. Sy het op haar knieë deur ’n nabygeleë wingerd gekruip en uiteindelik onder ’n vragmotor, wat in Vastrap geparkeer was, geskuil.
Die klaagster se vriende het haar later onder die vragmotor aangetref. Hulle was geskok deur die fisieke toestand waarin sy was. Haar klere was vuil en geskeur.
Die polisie is gekontak nadat die klaagster haar vriende vertel het wat gebeur het.
Ntamehlo is kort hierna naby die misdaadtoneel in hegtenis geneem. Hy het lewenslange tronkstraf in die gesig gestaar, maar die hof het wesenlike en dwingende omstandighede gevind in die lig van die feit dat hy nie soortgelyke vorige veroordelings het nie en omdat baie alkohol betrokke was toe die voorval plaasgevind het.
Maseti het met vonnisoplegging gesê die manier waarop die klaagster vir haarself tydens die verhoor opgekom het, het vir hom uitgestaan. Hy het gesê die klaagster is geviktimiseer en mishandel, maar ten spyte hiervan het sy standvastig gestaan in die gesig van sterk opposisie toe sy die kans gegun is.
Volgens Maseti moet die vonnis wat opgelê is, ’n duidelike boodskap aan die breër gemeenskap stuur dat dit nie “die gewone” is wanneer dit by seksuele oortredings teenoor kwesbares kom nie.
Hy sê die betrokke oortreder sal uit die samelewing verwyder word.





