’n Man van De Doorns het homself gehang nadat hy na bewering sy voormalige vriendin ontvoer en verkrag het.

Volgens inligting ontvang het die oorledene na Robertson gereis waar sy voormalige vriendin woon, haar daar ontvoer en glo verkrag ook.

“Hy het haar ook aangerand,” het ’n onkreukbare bron met inligting oor die saak verduidelik.

Die vrou het glo toe ontsnap en ’n klagte by die Robertson-polisiekantoor aangemeld.

Die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe het bevestig so ’n saak word tans deur dié eenheid ondersoek.

Voordat die polisie egter die verdagte in hegtenis kon neem, is hy Maandag 15 Julie om 07:24 dood aangetref.

“Hy het homself met ’n draad opgehang en is later deur iemand gevind,” het ’n woordvoerder van die De Doorns-polisie verduidelik.

. In ’n afsonderlike geslagsgebaseerde voorval is ’n vrou Saterdag 20 Julie in Robertson doodgemaak. Die voorval het vermoedelik op die Montblois-wynlandgoed op die De Hooppad buite Robertson gebeur.

Volgens betroubare inligting deur Standard & Gazette bekom is die vrou deur haar eggenoot vermoor. Hy het haar glo met ’n onbekende voorwerp gesteek. Verdere inligting dui daarop dat die oorledene met ’n besemstok doodgeslaan is. Die Robertson-polisie wou nie verdere besonderhede oor die saak deel nie, maar het bevestig ’n soortgelyke moordsaak word tans ondersoek. Die verdagte is in hegtenis geneem en het vroeër vandeesweek in die hof verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article