Ter illustrasie.Foto: Getty Images


’n Hofklerk het onlangs die bestuurder van ’n voertuig in kennis gestel dat ’n verkeersboete nou glo eers ná 24 maande verval.

Hierdie stelling is egter onwaar. Die bestuurder is gedagvaar om in die hof te verskyn weens onbetaalde verkeersboetes, waarvan een op die lys van drie ’n boete van 2022 was.

“Ek het vroeg na die Drakenstein-munisipale hof toe gegaan sodat ek voor die tyd met die staatsaanklaer by die hof kon praat. Ek het vir hom verduidelik dat ek nie eens bewus was dat ek uitstaande boetes gehad het nie en dat ek glad nie eens finale kennisgewings om te betaal ontvang het nie,” verduidelik die persoon, wat anoniem wil bly.

Die hofklerk het egter aan hom verduidelik dat boetes nou eers ná 24 maande verval en nie meer ná 18 maande nie.

“Ek is nogal onkant betrap, want net die dag vantevore het ek weer net my kennis oor boetes opgeskerp en dit was nie wat die internet opgelewer het nie. Ek is toe aangeraai om net versagting te vra en ook ’n uitstel-betaaldatum, want ek het gesê ek kon nie die bedrag eenmalig bekostig nie.”

Volgens Layton Beard, ’n woordvoerder van die Automobiel Assosiasie, is dit onwaar dat boetes eers ná 24 maande verval.

“Boetes verval gewis reeds ná 18 maande, tensy die bestuurder gedagvaar is; dit verander dan die situasie.”

Beard verduidelik ook dat mense nie so gemaklik moet raak om die feit dat hulle niks in hul posbusse ontvang het, as ’n verskoning te gebruik nie.

“Die feit dat jy niks in die posbus ontvang het nie, is nie ’n verweer nie. Ek raai mense aan om gereeld na te gaan of hulle enige verkeersboetes het. Daar is verskeie webtuistes waar ’n mens kan gaan kyk,” verduidelik hy.

Hoewel die nasionale posdiens al vir jare aan flarde hang, word dié diens steeds gebruik om verkeersboetes af te lewer.

“Ons maak ook gebruik van die SMS- en MMS-stelsels om mense van hul boetes in kennis te stel,” verduidelik Hannelie Botha, ’n woordvoerder van die Breedevallei-munisipaliteit.

Die Drakenstein-munisipaliteit maak van dieselfde dienste gebruik en volg ook dieselfde stappe, het Riana Geldenuys, ’n woordvoerder van die Drakenstein-munisipaliteit, bevestig.

Botha verduidelik ook die stappe wat lei tot ’n dagvaarding om in die hof te verskyn. “Dertig dae nadat die eerste kennisgewing van die boete gestuur is, sal ’n finale kennisgewing gestuur word, en daarna die dagvaarding.”

Dit is ook belangrik om nie die versoek om in die hof te verskyn, te minag nie.

“Sodra ’n beskuldigde versuim om in die hof te verskyn, sal die landdros ’n lasbrief vir inhegtenisneming uitreik. Hierdie lasbrief tot inhegtenisneming het ’n minagting-van-die-hof-boete van R200 daaraan verbonde. Die lasbrief vir inhegtenisneming kan uitgevoer word en ’n beskuldigde kan daarna in hegtenis geneem word.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article