Breedevallei-munisipaliteit (BVM) nooi alle kwalifiserende aansoekers uit om vir deernis-subsidie aansoek te doen. Dit sluit die bestaande ontvangers van deernis-subsidies in.
Maandeliks word 27 000 munisipale rekenings uitgestuur – waarvan tans 6 370 goedgekeurde deernis-subsidie-rekenings is.
Die munisipaliteit se konsep- kapitale begroting vir die komende boekjaar beloop R185 miljoen, terwyl die deernis-portefeulje R50 miljoen per jaar beloop – meer as ’n kwart van die kapitale begroting. Ten einde volhoubare dienslewering te verseker, moet die munisipaliteit gereeld verifieer dat slegs huishoudings wat werklik behoeftig is vir ’n deernis-subsidie kwalifiseer en dat daar nie ’n uitbuiting van dié subsidie is nie.
BVM se deernis-databank is in 2020 laas – voor die Covid-19-pandemie – hersien. Gevolglik is daar onlangs besluit dat almal in die deernis-databank weer moet inkom om hul persoonlike besonderhede en hul huishouding se gesamentlike finansiële inkomste te verifieer, ten einde seker te maak dat slegs diegene wat werklik behoeftig is vir hierdie subsidie kwalifiseer.
Die belangrikheid van kredietbeheer
Die meerderheid van Suid-Afrikaanse munisipaliteite het in duie gestort omdat hulle nie behoorlike kredietbeheer toepas nie en gevolglik kontantvloeiprobleme ontwikkel. Indien ’n munisipaliteit nie sy inkomste van inwoners kan verhaal nie, kan ’n munisipaliteit nie sy dienslewering in stand hou en ook nie sy rekening aan Eskom betaal nie.
Kernbegrip
Indien in die verifikasieproses bevind word dat ’n huishouding se gesamentlike inkomste wel minder as R4 500 is, sal daardie huishouding steeds vir ’n deernis-subsidie kwalifiseer. Dié verifikasieproses is juis gemik teen diegene wat kan betaal, maar net nie wil betaal nie.
BVM wil dus hiermee verhoed dat dié stelsel uitgebuit word en die verifikasieproses het ten doel om finansieel behoeftige huishoudings te beskerm. Indien die raad meer inkomste kry van diegene wat kan betaal, maar nie wil nie, kan die raad juis daardie geld vir projekte aanwend waar dit die grootste verskil in finansieel behoeftige mense se lewe sal maak.
Uitbuiting van deernis-subsidie
Dit is belangrik dat die totale huishoudelike inkomste van ’n eiendom wat deernis-subsidie ontvang gereeld geverifieer word, aangesien inwoners se finansiële posisie vinnig kan verander.
Soms verloor mense hul werk en dan kwalifiseer hulle vir deernis-subsidie, terwyl mense ook soms gelukkig is om ’n werk te kry, en dan nie meer kwalifiseer vir deernis-subsidie nie.
In sommige gevalle is daar huishoudings wat dié subsidie uitbuit en dan sien ’n mens ’n duur motor by so ’n huis, of ’n DStv-skottel wat voor so ’n huis opgerig is. Die argument lui dat as daar geld vir voertuig-paaiemente en ’n TV-kanaal se intekengeld is, dan moet daar ook geld wees om die munisipale rekening te betaal. Dit is ’n kwessie van prioriteite en verpligtinge.
Vrae van BVM-kredietbeheerafdeling
Die BVM-kredietbeheerafdeling verifieer die finansiële posisie van die gesamentlike huishouding van deernis-subsidie-aansoekers, en bepaal of die gesamentlike inkomste uit alle bronne minder as R4 500 per maand is.
Aansoekers moet ook ’n driemaandelikse bankstaat kan voorlê.
Verifikasieproses
Dit is belangrik dat aansoekers vir die deernis-subsidie moet verstaan dat as jy tydens die verifikasieproses sou jok, jy uitgevang gaan word.
Die verifikasieproses word besonder omvattend hanteer, aangesien dit ook aan die Sars-databank gekoppel is. Wanneer ’n totale huishouding se uitgawes geverifieer word, word daar onder meer gekyk na watter maandelikse betalings daar onder inwoners wat op so ’n eiendom woon se naam geregistreer is.
Krag afgesny
Sekere huishoudings wat tans aan kragblokkering onderhewig is, moet die BVM-kredietbeheerafdeling besoek om hul huishouding se gesamentlike finansiële inkomste verifieer.
Sou die huishouding se gesamentlike inkomste nie R4 500 per maand oorskry nie, word die blokkering gelig en hou so ’n huishouding aan om sy gratis aantal eenhede elektrisiteit per maand te ontvang.
Navrae
Ontvangers en potensiële ontvangers van die deernis-subsidie word aangemoedig om so gou moontlik na die BVM-kedietbeheerafdeling by die departement van finansies in Baringstraat te gaan en die nodige vorms in te vul.
Indien pensioenarisse en gestremdes nie die kantore kan besoek nie, sal die BVM-kredietbeheerafdeling hulle besoek en help om die nodige vorms te voltooi.
- Vir navrae, kontak die BVM-kredietbeheerafdeling by 023 348 2600.




