Die landboubedryf kan eenvoudig nie dubbelsyferverhogings in kragpryse bekostig nie.

As Eskom se tariewe met 20,5% styg, sal dit die voortbestaan van talle landbou-ondernemings bedreig. Die landbou vra vir ’n verhoging van nader aan 7%, het Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, verlede Woensdag gesê.

Die landbou het nie dieselfde luukse as Eskom, wat ’n aansuiweringsmeganisme (die RCA-proses) het waardeur verlore inkomste van vorige boekjare verhaal kan word nie, het Strydom verduidelik. Die landbou is ’n prysnemer, wat maar net die pryse wat aan hom deurgegee word, moet absorbeer.

Kragtariewe het reeds verlede jaar met 15% tot 17% gestyg, kunsmispryse gaan vanjaar na verwagting met tussen 32% en 69% styg en verlede jaar is die minimum lone in die landbou met 16,1% verhoog. Daarby het dieselpryse in tien van die afgelope 12 maande met tussen 17% en 46% gestyg, het Strydom in die openbare sitting, wat die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) oor Eskom se jongste tariefaansoek hou, gesê.

Die algehele energiekoste beloop 2,8% van die landbousektor se insetkoste, of meer as R9 miljard per jaar, maar die insetkoste van net elektrisiteit kan tussen 10% en 20% van sekere landbousektore se algehele koste bedra, waarsku Strydom.

“Nersa behoort die rol te vervul om munisipaliteite se wanbetaling van hul kragrekening bloot te stel,” het Strydom bygevoeg.

“Dit lyk of Eskom in dié opsig ’n eensame stryd voer, en ek weet nie hoekom Nersa nie meer hiermee help nie – almal moet hul verpligtinge nakom.”

Ghaleb Cachalia, DA-woordvoerder oor openbare ondernemings, het Woensdag in ’n afsonderlike verklaring aangevoer kragtariewe moet volgens verbruikersprysinflasie en huishoudings se inkomste bepaal word, eerder as om Eskom se “ondoeltreffendheid en wanprestasie” te beloon.

Hy het ook gewaarsku dat Suid-Afrikaners nie die 20,5%-verhoging, wat Eskom vereis, kan bekostig nie.

Eskom oor steenkool

Eskom se ouer wordende steenkoolkragstasies het steenkool van beter gehalte nodig om doeltreffend te kan werk, maar steenkool van beter gehalte is duurder, het Snehal Nagar, finansiële bestuurder vir primêre energie by Eskom, Woensdag gesê.

Eskom ding volgens hom mee met lande in Asië wat steenkool van Suid-Afrika invoer. Verder ontwrig groeiende hernieubare energie Eskom se sakemodel, tesame met ’n gebrek aan nuwe beleggings in nuwe steenkoolmyne.

Die ideaal vir Eskom is as hy steenkoolmyne het wat steenkool per vervoerband na sy kragstasies kan vervoer eerder as per spoor of padlangs.

Eskom verwag dat hy tot 2050 tussen 650 miljoen ton en 850 miljoen ton ekstra steenkool sal nodig hê, aldus Nagar.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article