Die verdagte wat verlede week in verband met die moord op sy vriendin in hegtenis geneem was, was glo uit op borgtog ten tyde van die moord.
Standard het verlede berig (Geweld lei tot twee se dood, 13 Oktober) oor ’n man wat sy vriendin in De Doorns vermoor het.
“ ’n Vrou het ons geskakel om te sê haar broer het sy vriendin aangerand. Hy het ons later ingelig waar ons haar sou kry en het erken hy het haar aangerand. Met verdere ondersoek is die vrou dood in haar huis aangetref,” het ’n woordvoerder van die De Doorns-polisie verlede week aan Standard verduidelik.
Nuwe inligting rakende die saak het egter aan die lig gekom.
Die oorledene, Sivoyile Nkahla (40) het glo in April ’n klagte teen die beskuldigde by die polisie aangemeld.
“Sy het ’n saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer aangemeld. Tydens daardie voorval het die beskuldigde haar glo geslaan, ’n mes gevat en haar in die kop gesteek en haar daarna met ’n stok geslaan. Toe sy die klagte aanmeld, het sy ’n steekwond aan die kop, verskeie merke aan haar lyf en gesig sowel as ’n gebreekte arm gehad,” het die woordvoerder vandeesweek gesê.
Die beskuldigde het vir daardie saak in die hof verskyn, maar is vrygelaat.
“Hy het toe nie vir sy volgende hofdatum opgedaag nie,” het iemand met kennis van die saak gesê.
“ ’n Lasbrief vir sy inhegtenisneming is toe uitgereik en deur die hof bemagtig, maar die lasbrief is nooit uitgevoer nie.”
Volgens die De Doorns-polisie wys geen lasbrief vir die verdagte op hul stelsel nie.
“Daar was wel ’n beskermingsbevel wat die oorledene vroeër vanjaar teen die beskuldigde in die saak verkry het. Dit was nadat sy die eerste klagte teen hom aangemeld het.”
Die woordvoerder het gesê die saak sal na die hooggeregshof oorgeplaas word.


