Nicoll Jantjies (18) wat Maandag 1 Augustus in die vroeë oggendure doodgeskiet is, se familie het blomme en ’n foto van hom in die voorhuis ter nagedagtenis van sy lewe geplaas. Hy word Saterdag begrawe. Foto: JP Myburg


’n Agtienjarige leerder van die Hoërskool Esselenpark is Maandag ná ’n vermeende bendevoorval in Riverview doodgeskiet.
Linda Jantjies het omstreeks 01:15 die oggend by haar venster in die voorhuis gestaan en gewag dat haar kind, Nicoll, terugkeer. Sy het vier skote gehoor en gedink: “Waar is my seun?”
Min het sy geweet dat sy minute later haar jongste se liggaam op ’n misdaadtoneel sou moes uitken.
“Ek het nie woorde om te beskryf wat ek voel nie. Ek weet net ek wens dit nie my grootste vyand toe nie,” vertel Jantjies aan Standard.
Sy sê haar ander seun het haar kom roep en ingelig dat Nicoll geskiet is.
“Ons het dadelik geloop na waar dit gebeur het. Toe ek daar kom, het ek my kind daar sien lê – dood.”
Volgens getuies, wat nie hul name wil noem nie, is die voorval gekoppel aan ’n vermeende bendevoorval net buite ’n bekende drankwinkel in Riverview.
“Dit het so vinnig gebeur. Nicoll het heel onskuldig saam met vriende geloop en ewe skielik het dit gelyk of mense begin hardloop, en daar was ’n geraas. Die volgende oomblik lê iemand dood op die grond. Hoe gebeur so iets?” vra ’n ooggetuie.

Standard verneem dat iemand Dinsdag (2 Augustus) in hegtenis geneem is, maar teen druktyd is navrae aan die plaaslike polisie nog nie beantwoord nie.

Edwina Roux, Nicoll se niggie, vertel hoe almal hom sal onthou as die seun met die mooi maniere, ’n klein hart en sy groot glimlag.

“Almal het van hom gehou. Sy onderwysers was lief vir hom en almal het altyd gepraat oor hoe vriendelik hy is. Ons sal hom altyd mis. Hy laat ’n groot leemte in ons huis en in ons harte.”

Personeel van die skool het Dinsdag (2 Augustus) ’n verbyrydiens in herinnering van Nicoll se lewe gehou.

Zeatha Steyn, ’n skoolvriendin van Nicoll, het ’n huldeblyk op Facebook aan haar graad 11-klasmaat opgedra.

“Nicoll was ’n baie stil mens in die klas. Dit is baie hartseer, want ons het nooit gedink of verwag dat ons iemand in ons klas sal verloor nie. Toe die juffrou sê hy is afwesig, het dit diep geslaan, want hy is weg. Hy het my nog ’n paar dae voor die tyd gekomplimenteer oor my hare, en nou is hy weg,” skryf sy.

Die familie het hul dank betoon aan die speurders wat aan die saak werk, asook die onderwysers van Hoërskool Breërivier.

“Ons is baie beïndruk met die polisie se werk en ook vir die skool wat die familie so mooi ondersteun en hul eer betoon,” het Roux bygevoeg.

Nicoll sal Saterdag 6 Augustus vanuit die VGK Kerk in Riverview, Worcester, begrawe word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article