’n Groep inwoners wat na verblyf in die Worcester-omgewing op soek is, is onlangs amper hul geld kwyt danksy ’n vermeende slenter.
“Verblyf is sekerlik die grootste uitdaging in hierdie dorp (Worcester), en as jy iets soos hierdie sien, raak jy dadelik opgewonde. Daai opgewondenheid kan ook baie vinnig in teleurstelling ontaard,” vertel Matthew Broodryk aan Standard.
Broodryk, ’n inwoner van die dorp, vertel hoe hy onlangs amper R5 500 verloor het nadat hy ’n op ’n gewilde Facebook-groep ’n advertensie vir ’n tweeslaapkamerhuis in Worcester te huur gesien het.
“Die huis was perfek. Twee slaapkamers, twee badkamers, ’n groot leefruimte, tuin, kuierplek, braaiplek en dierevriendelik – alles vir R4 000 per maand. Die verhuurders het my ingelig dat hulle nie in daardie stadium in die dorp was nie, maar binnekort sou terugkeer. Ek wou verby die huis ry, maar hulle het allerhande stories gehad. Ek het dadelik die rooiligte gesien.”
Broodryk verduidelik die “verhuurders” het hom toe ingelig baie mense stel belang en wie ook al eerste die deposito van R5 500 betaal, sal die kontrak kry.
“Ek is dadelik terug na die Facebook-groep en sien toe baie kommentaar van presies dieselfde kommunikasie.
“Een vrou het genoem dat sy die mense wat die advertensie geplaas het, weer wou kontak, maar sy is toe op WhatsApp geblok. Toe ek sê ek sal die deposito betaal sodra hulle terug is in die dorp en ek die plek fisiek gesien het, is ek ook geblok,” verduidelik Broodryk.
Nog ’n inwoner en belangstellende in die huis, Annette van der Merwe, het gesê sy het amper die geld oorbetaal.
“My man het my dadelik gekeer om dit te doen. Ek wou net nie die plekkie verloor nie. Toe ek vir hulle sê ek is nie gemaklik nie, maar het wel die geld gereed, is ek ook geblok. Die ergste van alles is dat ons verlede jaar ook amper deur dieselfde soort slenter gevang is.”
Standard het ook probeer uitreik na die mense wat die advertensie geplaas het en is dieselfde storie vertel. Standard het verder probeer om hul kant van die storie te hoor, maar oproepe bly onbeantwoord en WhatsApp-boodskappe gaan nie deur nie. Die profiel op Facebook is ook gesluit en geen kontak kan met die adverteerder daarop gemaak word nie.
“Hierdie leer ’n mens om eerder net weer doodseker te maak. As iets te goed is om waar te wees, dan is dit gewoonlik. Mense moet maar lig loop en op die uitkyk wees vir hierdie soort slenters,” waarsku Broodryk.




