Ter viering van Internasionale Veldwagterdag gaan veldwagters van reg oor die wêreld heen hul stories Saterdag (30 Julie) lewendig aanlyn deel en mense word genooi om te kyk.
Die werk wat veldwagters vir bewaring doen, word toenemend veeleisend – en dikwels gevaarlik.
Veldwagters kom teen stropers te staan, moet die elemente trotseer en stel dikwels hul lewe in die uitvoering van hul pligte in gevaar.
Wêreldveldwagterdag word jaarliks op 31 Julie gevier om hul belangrike bydrae tot bewaring te erken en hulle vir hul dapperheid en toewyding te vereer. Hulde word ook gebring aan diegene wat in die uitvoering van hul pligte gesterf het of beseer is.
Die doel van die aanlyn geleentheid is om die verhale van veldwagters van verskeie lande oor die wêreld heen te deel, bewusmaking te skep van wat dit verg om ’n veldwagter te wees, en erkenning te gee aan die uitsonderlike werk wat hulle doen.
Organisasies wat bydraes lewer, sluit in SANParke, die Game Rangers Association of Africa, die National Park Service van Amerika, die Vredesparke-stigting, WWF Suid-Afrika (in vennootskap met USAID) en die span van SANParke SEAM (see, lug en berge).
Die program word afgesluit met ’n kersligseremonie gelei deur dr. Nicholus Funda, SANParke se hoofbestuurder van gebiedsintegriteit, waarin hulde gebring word aan dié wat in die uitvoering van hul pligte as veldwagter die hoogste prys betaal het.
Die seminaar word Saterdag 30 Julie om 14:00 via Zoom aangebied en sal op die SANParke-ereveldwagters se Facebookblad (SANParksHonoraryRangers) gestroom word.
Skenkings deur die publiek sal toegewys word aan Project Embrace, wat daarop gemik is om programme en strukture te verskaf wat die welstand en veerkragtigheid van veldwagters ondersteun.. Vir meer inligting, besoek www.sanparksvolunteers.org/project-embrace/.




