Hulpkrete deur skoolhoofde en onderwysers van drie hoërskole in Worcester oor beweerde bendebedrywighede op hul skoolterrein het die regering se kommunikasie- en inligtingstelsel-departement en ander sleutelrolspelers genoop om die betrokke skole te besoek om by kinders te pleit om nie by bendebedrywighede betrokke te raak nie.
Die drie skole waar besoek afgelê is, sluit in Esselenpark-, Breërivier- en Worcester Senior Sekondêr.
Benewens ’n verteenwoordiger van die regering se kommunikasie- en inligtingstelsel-departement, het afgevaardigdes van die Worcester-polisiediens, departement van justisie en grondwetlike ontwikkeling, en departement korrektiewe dienste asook die uitvoerende burgemeester van Breëdevallei-munisipaliteit, Antoinette Steyn, dié drie skole Maandag (24 Februarie) besoek.
Volgens Peter Titus van die regering se kommunikasie- en inligtingstelsel-departement het bendebedrywighede ’n euwel vir die samelewing geword – veral in gebiede soos Roodewal, Riverview en Avianpark in Worcester – en beweeg hierdie negatiewe tendens na skole in die betrokke omgewings.
“As jy enigsins daaraan gedink het om by bendes betrokke te raak – wel, dit stop vandag. Ons gaan weet wie jy is en ons gaan met jou afreken,” het Titus leerders gewaarsku.
“Ons het oor die jare gesien hoe dié skool [Esselenpark Senior Sekondêr] agteruitgaan – en dit oor gangsterism in ons skool,” het kol. Ciprianus van der Westhuizen, waarnemende polisiekommissaris van die Worcester-polisie, aan die leerders gesê.
“In die hele land is Worcester onder die top-30 wat misdaad betref, so gangsterism is lewendig in Worcester.
“Ongelukkig gebruik die gangsters ons skoolkinders om hul aktiwiteite in ons skole te bevorder, soos om dwelms onder julle te versprei. Moenie dat ander mense jou gebruik nie.
“Dit moet stop, want hier is van ons wat regtig hierheen [skool toe] kom om eendag ’n verskil in die lewe te maak.”
Xolile Madikane, waarnemende areakommissaris van die departement korrektiewe dienste in die Breedevallei-bestuursgebied, sê daar is geen voordeel om by bendebedrywighede betrokke te raak nie.
“As jy ’n bendelid is of kies om aan ’n bende te behoort, is daar slegs drie voertuie waarin jy gaan ry – ’n ambulans, polisievoertuig en lykswa.
“Onthou, julle kom skool toe om op jul skoolwerk te fokus. Dit is die sleutel tot jou sukses.
“Vandag begin ons met ’n nuwe hoofstuk. Ons wil dié skool as ’n bendevrye-sone sien.”
Riaan Myburgh, streekhoof van die Kaapse Wynland-distrik se departement van justisie en ontwikkeling, het aan leerders genoem dit gaan alles oor besluitneming en dat die besluite by die kinders lê.
“Van julle is dalk die slagoffer van iemand anders se verkeerde besluite. As jy ’n slagoffer is van iemand anders se besluite, moet jy seker maak jy kom uit by die regte mense . . . justisie, maatskaplike dienste, jou skoolhoof, onderwysers, die polisie . . . by mense wat jy vertrou.
“Neem die regte besluite. Nie môre nie, maar vandag.”
Myburgh het ook onder meer met die leerders gesels oor wetgewing wat spesifiek op kinders gemik is en oor die verskillende vorms van afknouery.
“As kinders nie respek het vir onderwysers nie, gaan daar nie dissipline wees nie. Ons sal nie die skole kan red as die skole hulself nie wil red nie,” het Steyn Maandag op ’n mediakonferensie gesê.
Volgens hom moet skole die ouers betrokke kry.
“Die skoolhoof moet dissipline terugbring na sy skool. As jy nie leierskap in jou skool het nie, gaan jy nêrens kom nie,” het Steyn skoolhoofde gemaan.




