Die manier waarop plaaswerkers in die Breedevallei vervoer word, is ’n netelige kwessie wat reeds geruime tyd in die kollig geplaas word.
Standard het al etlike kere berig oor grusame ongelukke of botsings waarin plaaswerkers, wat op oop vragmotors of op sleepwaens vervoer word, omkom.
Nou gaan die DA in die Wes-Kaapse wetgewer ’n reeks voorstelle aan die minister van vervoer stuur met die hoop om die vervoer van landbouwerkers veiliger te maak.
Dit sluit in ’n spoedperk van 80 km/h vir vragmotors wat agter oop is en passasiers vervoer, soos wat verlede jaar deur die staande komitee oor landbou aanbeveel is.
Andricus van der Westhuizen, die DA-woordvoerder oor landbou in die wetgewer, het onlangs gesê hy gaan aan Fikile Mbalula, die minister van vervoer, skryf oor voorstelle om die vervoer van werkers te verbeter.
Van der Westhuizen het genoem die staande komitee het verlede jaar strenger regulasies vir die vervoer van landbouwerkers aanbeveel, asook die moontlikheid van ’n nasionale subsidie wat busvervoer vir dié werkers in landelike dele moontlik kan maak.
Hy het in ’n verklaring daarop gewys dat dié kwessie onder die nasionale regering se bevoegdhede val en geëis dat die ANC-regering die voorstelle ernstig oorweeg.
Landbouwerkers word daagliks in gevaar gestel weens die wyse waarop hulle vervoer word, het die komitee verlede Februarie gehoor.
Van die roetes waarop plaaswerkers veral vervoer word, sluit in die Hexriviervallei tussen Touwsrivier, De Doorns en Worcester, sowel as in Grabouw, Klapmuts, Wellington en die Weskus se plaasgemeenskappe.
’n Dak of bedekking word vereis vir vragmotors wat plaaswerkers vervoer, met die passasiers wat veilig moet kan sit of staan met ’n handreling.
Bestuurders moet ook toesien dat die voertuig nie oorlaai word nie en opgelei wees in noodhulp, terwyl ’n noodhulpkissie te alle tye byderhand moet wees.
Die komitee het toe gehoor dat die gebruik van trekkers op openbare paaie om werkers te vervoer so ver as moontlik vermy moet word.
Indien meer as 12 mense vervoer word, moet die bestuurder ook in besit van ’n bedryfslisensie en ’n beroepsrybewys wees.





