Lede van die Brandvlei-hengelklub se tweede kompetisie van die jaar is Saterdag (4 Februarie) in baie warm en windlose omstandighede in die Kwaggaskloofdam gehou.
Die vis het die aas sommer van meet af aan verslind en het eers later in die warmer weer traer begin byt.
Jacques van Graan het weer eens bewys hy is ’n tophengelaar en die dag se vangste met sy 40 visse van altesaam 39,76 kg oorheers.
Hy het nie net die A-sone en die meestersafdeling gewen nie, maar was ook die dag se algehele wenner.
Boonop het hy weer die swaarste baber (9,520 kg) uitgetrek.
Sy dogter, Megan van Graan, het eweneens goed presteer en die vroue-afdeling gewen.
Juniel Baadjies het die senior afdeling gewen nadat hy 21 visse in die net laat beland het, wat hom tweede in die B-sone laat eindig het.
In die veterane-afdeling het Danie Wilmot koning gekraai met 28 visse – twee minder as die 30 van Johan de Bod, maar nietemin het Wilmot se visse en gewig hom laat seëvier.
De Bod was tweede in die veterane-afdeling sowel as in die A-sone.





