Die Breedevallei-gemeenskapskrieket-vereniging se amptelike krieketseisoen het verlede Sondag met hul eerste ligatoernooi begin.
Veertien geregistreerde klubs neem aan die toernooi deel, wat oor een beurt van 20 boulbeurte gespeel word.
Wedstryde is oor Worcester heen gespeel met een of twee verrassings.
In groep A het Quickies verras deur ’n sterbelaaide Clovers op Edengarden te klop, terwyl View Pros in dieselfde groep met Hartwig Lions afgereken het. Groep B het oorwinnings vir Very Dangerous teen Orchard op Nuweland opgelewer terwyl View Giants gemaklik met Young Stars op Giantspark klaargespeel het.
Die uitslae van Zazon vs Black Leopards in groep A asook dié van Pro Eagles vs Blue Flames (groep B) was teen druktyd nie beskikbaar nie terwyl Pumas (groep A) en Rising Stars (groep B) loslootjies geniet het. Wedstryde word Sondag hervat met verskeie watertand-kragmetings.. Intussen word die Burgermeester- junior eindstryd ook Sondag op Greenvalley gespeel.
Orchard United se juniors sal om 15:00 teen Quickies se juniors om die junior kroon meeding. Hartwig Lions se juniors sal om 12:30 teen View Pros speel. ’n Feestelike atmosfeer gaan heers en ondersteuners word gevra om vroeg vir die wedstryde op te daag.
Mervin Hermanus (koördineerder) bedank al agt junior klubs asook hul besture en ondersteuners vir hul bydrae om ’n puik toernooi vir die juniors aan te bied. Die Breedevallei-munisipaliteit se Burgermeesterskomitee word ook bedank vir hul rol om van die toernooi ’n sukses te maak.
Die volgende toernooi sal in Februarie op ’n uitklopbasis gespeel word met 16 junior spanne wat na verwagting daaraan sal deelneem.





