Een van Worcester se mees geliefde en gewildste sportmanne van weleer, Abraham Haupt (86), of “oom Abe”, soos hy aan vele bekend gestaan het, is Maandagoggend skielik tuis oorlede.
Oom Abe, wat die laaste ruk met sy gesondheid gesukkel het, was egter nog tot sy skielike dood redelik aktief en kon altyd met passie oor sy grootwordjare en veral sy liefde vir sport gesels.
Hy is gebore en getoë in Worcester, en het gematrikuleer aan die destydse Söhnge Opleidingskool, ook in Worcester.
Ná skool het oom Abe jare lank by die werkswinkel vir blindes gewerk voordat hy by Söhnge Opleidingskollege in Greystraat tot 2002 met sy 65ste verjaarsdag gewerk het.
Abraham was ook ten nouste betrokke by die Crusaders Kersfeeskoor as hul trommelmajoor.
Sy ander groot liefde was immers sport.
Hy het vir die Young Hamiltons-rugbyklub as losskakel gespeel, en hulle met groot onderskeiding verteenwoordig.
Hy het ook by verskeie geleenthede sy vaardigheid in die Uniale-span tentoon gestel.
Sy ander groot liefde was krieket, waar hy vir jare een van die destydse Marigolds-krieketklub van Worcester se staatmakers was. Nie net het hy as mediumsnelbouler kolwers met sy boulwerk uitoorlê nie, maar hy was ook ’n goeie kolwer wat gesag afgedwing het by teenstanders.
Oom Abe was ook ’n gewilde duiweboer, en was ook vir jare lid van die Riverside-gholfklub waar hy altyd gewillig was om sy stokke uit te haal as deel van insamelingspogings.
Oom Abe laat sy suster, Christene, en sy gade, Minnie, vier kinders en drie kleinkinders agter.
. Sy diens vind die komende Saterdag (10 Junie) by die VGK Worcester-Oos plaas, en vandag (8 Junie) sal daar ’n roudiens om 18:30 by sy tuiste, Hartwiglaan 113 in Worcester, gehou word.




