’n Plaaslike veearts van Worcester wat bekend is vir haar besorgdheid oor diere is ook nou weekliks in ’n gewilde reeks op kykNET te sien.
Dr. Elza Kolver (27) bied weekliks ’n interessante blik op troeteldiere se giere en geite op kykNET se nuutste leefstylprogram, Op reis met my beste vriend.
Sy verskaf ook raad aan eienaars oor verskeie gesondheidskwessies wat diere dalk kan baat.
“Die reeks neem kykers op ’n opvoedkundige, emosionele, humoristiese en onvergeetlike reis,” sê die akteur en vervaardiger Neels van Jaarsveld.
Van Jaarsveld, ’n bekende vermaaklikheidster, is ook die regisseur van die reeks.
Sy miniatuur spikkel-worshond, Lulu, is amper net so bekend soos haar eienaar. Die skattige Lulu, wat haar eie Instagram-blad het, steel harte net waar sy gaan.
Die reeks volg Van Jaarseld op sy reise deur die land en waar hy onderhoude met talle bekendes oor hul troeteldiere voer en kykers allerhande unieke blyplekke wys wat dierevriendelik is. Die program het ook ’n insetsel waar Kolver as kenner en deskundige optree.
Kolver, wat as veearts by die Durbanstraat-dierekliniek werk, sê die geleentheid om deel van die reeks te word, het heel toevallig oor haar pad gekom.
“Neels se ma, Lydia, woon in Rawsonville. Sy besoek ons praktyk gereeld met haar dierekinders. Ek is toe genader om deel van die reeks te wees en sou nooit in my wildste drome kon raai dat ek so iets kan doen nie,” vertel Kolver aan Standard.
Sy sê dit is vir haar ’n “interessante ondervinding”.
“Dit is nie iets waaraan ek gewoond is nie. Ek is nie ’n filmster nie, maar die span laat ’n mens so gemaklik voel. Alles is by ons praktyk verfilm. Ons is een van die oudstes in die streek en het oor die jare ’n goeie naam opgebou. Ons mantra is diensbaarheid.”
Sy verduidelik verder dat die televisiebedryf haar met nuwe oë na die vermaaklikheidswêreld laat kyk.
“Dit is baie harde werk, maar almal weet wat hulle doen. Hulle laat jou op jou gemak voel en daar gaan soveel werk en kreatiwiteit daarin,” vertel sy verder.
Dit is die eerste keer dat van Jaarsveld as vervaardiger van ’n reeks met sy produksiemaatskappy, Met Eish, aan die stuur van sake betrokke is.
Van die bekendes wat in Op reis met my beste vriend te sien is, is die sangeres Leah en haar twee Jack Russells, Miggie en Lila, wat ’n paar nuwe toertjies leer; die akteur Theodore Jantjies en sy boerboel Duke, wat na ’n dierevriendelike restaurant gaan; die sangeres Reandi Grey en haar goue apporteerhonde, Benji en Nina, wat onder meer ’n gidshond beter leer ken; en Francois Jacobs en Nykie Pretorius en hul Staffordshire terriërs wat besoek aflê by ’n pandjieswinkel wat dierevriendelik is.
Dis egter nie net bekendes en hul honde wat deel van die reeks is nie. Eloïse Cupido en haar katte, Phantom en Coco Belle, besoek ’n dieresiener en kuier by ’n aannemingsentrum vir katte, en die akteur Wilhelm van der Walt en sy katte, Seymour en Freddie, word deur ’n dierekundige besoek.
“Ek kan maar net dankie sê aan kykNET en Neels sowel as die span by die Durbanstraat-dierekliniek vir die geleentheid. Dit is iets heeltemal anders, maar wat tog baie lekker is,” voeg Kolver by.
Op reis met my vriend is Saterdagaande om 18:00 op kykNET kanaal 144 op DSTV te sien.


