Te midde van die land se energiekrisis en voortdurende kragonderbrekings is daar gesinne wat probeer positief bly.

Credit: SYSTEM

Terwyl beurtkrag talle mense erg onthuts laat en die invloed daarvan katastrofies vir sakeondernemings en huishoudings is, probeer sommige inwoners positief bly en die lig aan die einde van die donker tonnel sien.

Standard het gaan kers opsteek by inwoners om te hoor hoe hulle die gevolge van beurtkrag beperk en planne maak om positief te bly.

“Niks kan nie met ’n braaivleisvuur of ’n gasbottel opgelos word nie, en vir enigiets anders is daar die stilte – met soveel geraas in die wêreld is daardie paar ure stilte soms nodig.”

Só sê Charles Bothma van Robertson. Hy skerts en vertel hoewel hierdie stelling baie optimisties klink, hy steeds plofbare vloekwoorde uiter wanneer die krag afgaan.

“Wat kan ’n mens doen? Jy kan elke dag ingaan en negatief wees, jouself opwerk en kwaad maak vir alles en almal, of jy kan die lig hierin soek. Ek is nie naïef nie. Hierdie hele situasie is ’n tragedie, maar soms moet ’n mens net probeer om dit beter te maak.”

Hy en sy vrou, Amelie, en hul twee dogters, Chané en Chalandré, bring nou baie tyd saam deur – veral weens beurtkrag. Nog só ’n gesin is die Dippe­naars, ook van ’n plaas net buite Robert­son, en huisvriende van die Bothma’s.

Pa Aldré meen egter hulle as gesin kan nou baie meer tyd saam deurbring en hulle wy deesdae baie meer tyd aan mekaar.

“Ons vra nou uiteindelik hoe dit met mekaar gaan. Sonder om bewus te wees het ons mekaar beter leer ken en kan ons in mekaar se vreugdes deel. Tegnologie steel soms daarvan. Ek weet die situasie is sleg. Ons ondernemings hou skaars die kop bo water, maar die invloed op my gesin is geweldig positief,” meen hy.

In Worcester, verduidelik Sara Stoffels, het beurtkrag haar geweldig negatief gemaak, maar haar seun het vir haar ’n gasplaat en ’n batterytoestel aangeskaf, wat die televisie en waaier van krag voorsien.

“Nou kan ek my sepies kyk. Ek hoef nie dood te gaan van die hitte en muskiete nie, en dit is so stil rondom ’n mens. Ons waardeer soms maar die stilte, hoewel almal maar hoop en bid die situasie word gou opgelos.”

Beurtkrag is sekerlik ’n neiging wat in 2023 nog ’n groot invloed op elkeen se lewe gaan hê.

Die onlangse nuus van die onmiddellike vertrek van die uitvoerende hoof van Eskom, André de Ruyter, het omtrent skokgolwe deur die land gestuur en die toekoms lyk onseker. De Ruyter het met die nuuskanaal ENCA ’n eksklusiewe onderhoud gevoer waarna hy weens sy uitlatings oor korrupsie summier die trekpas gegee is. Hy sou tot einde Maart aanbly soos ooreengekom.

Suid-Afrika sal vandeesweek tussen fase vyf en drie van beurtkrag beweeg – dit nadat die land bykans ’n week lank fase ses beurtkrag beleef het.

“Dit is hoekom ’n mens positief moet bly en soveel tyd moontlik bestee aan die goed wat jy kan benut en bestuur. As dit uit jou hande is, vat eerder saam hande,” voeg Dippenaar by.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article