Dit is nie net ouers en gesondheidswerkers wat jong kinders kan help om te floreer nie. Almal word gevra om deel te word van ’n projek om kinders wat geraak word deur wanvoeding te help.

In die 2022-’23-finansiële jaar is 62 kinders wat jonger as vyf jaar oud is by Ceres-hospitaal opgeneem weens wanvoeding. Meer as die helfte van hulle het ernstige akute wanvoeding gehad, en ongelukkig het drie kinders gesterf.

Wanneer kinders in veral die eerste 1 000 dae van lewe voldoende voeding, liefde en sorg kry, kan hulle gesonde volwassenes word. As van hierdie boustene nie daar is nie, beïnvloed dit hul groei, ontwikkeling, en hulle welstand as volwassenes.

Die Wes-Kaapse departement van gesondheid en welstand onderneem verskeie inisiatiewe om kinders se welstand te bevorder deur te fokus op die eerste 1 000 dae van hul lewens.

As deel hiervan, doen gesondheidswerkers opvoeding oor gesinsbeplanning en gee ondersteuning tydens en ná swangerskap sodat ma en baba so gesond as moontlik bly. Uitsluitlike voeding met borsmelk word sterk aangemoedig vir babas tussen nul en ses maande. Babas se groei en ontwikkeling word gemonitor by klinieke en tydens besoeke in gemeenskappe. Jong kinders kry gratis immunisering om hul gesondheid te beskerm. Personeel prioritiseer sorg aan jong kinders wat na klinieke of die hospitaal gebring word, en kinders wat bykomende voeding nodig het, word vroeg geïdentifiseer en op ’n spesiale voedingsprogram geplaas.

Ten spyte hiervan, is daar steeds kinders wat aan wanvoeding ly en gehospitaliseer moet word, sê dr. Jani Fouché van die Ceres-hospitaal. Hierdie kinders is baie siek en word vir een tot ses weke gehospitaliseer. Kinders wat ontslaan word, het ekstra ondersteuning nodig om aan te sterk, en daarom loods die Ceres-hospitaal die Vat 5-projek.

Dr. Fouché vra dat die gemeenskap kos-items soos mieliemeel, eiers, olie, grondboontjiebotter en warm klere (vir kinders vyf jaar en jonger) skenk sodat elke kind wat ontslaan word nadat hulle gehospitaliseer is weens wanvoeding, ’n pakkie het om hulle te help aansterk.

“Dit sal kinders help om vir die eerste maand nadat hulle ontslaan is, die belangrikste voedingstowwe te kry,” sê hy.

Warm klere is ook belangrik, omdat kinders wat aan wanvoeding ly, se velle baie dun word. Dit lei daartoe dat hulle vinniger ontwater en dat hulle makliker hitte verloor.

Volgens die 2020-verslag van Kinderarmoede in Suid-Afrika (uitgereik deur Statistiek SA) word 6 uit 10 kinders in verskeie opsigte deur armoede geraak. Die verslag dui aan dat 57,9% van kinders se ontwikkeling geraak word, en 54,4% se gesondheid.

Wanvoeding dra ook daartoe by dat kinders se groei en ontwikkeling belemmer word.

Die departement, in samewerking met die DG Murray Trust, het navorsing laat doen oor wanvoeding en faktore wat dit dryf onder babas en kinders in die provinsie wat jonger as vyf jaar is. Die studie wys dat die departement se huidige pogings help om die voorkoms van groeibelemmering te verlaag, maar, bykans 20% van kinders onder die ouderdom van twee jaar se groei is benadeel.

Samewerking met ander rolspelers en die gemeenskap kan ’n groter verskil vir kinders maak. Met Junie wat Kinder- en Jeugmaand is, vra gesondheids­werkers opnuut dat almal in die samelewing help om kinders te laat floreer. Word deel van die Vat 5-projek!

. Kontak dr. Fouché by 023 316 9600 of Jani.Fouche@westerncape.gov.za

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article