Wes-Kaapse skole het ongelukkig vanjaar tydens die herfs-skoolvakansie weer die slagoffer van misdadigers geword.
Altesaam 18 skole het voorvalle van diefstal en vandalisme aangemeld, wat ooreenstem met die aantal skole wat in dieselfde tydperk verlede jaar geraak is.
Die Wes-Kaapse minister van onderwys, David Maynier, het wel gesê die voorvalle was gering van aard.
Misdadigers het net goed soos pype en heinings sowel as skryfbehoeftes en sporttoerusting gesteel.
“Ons het gedurende die vakansie subsidies vir veiligheidswagte aan 457 skole verskaf, maar dit maak nie skole immuun teen misdaad nie. Die beste verdediging vir skole is en bly ’n betrokke gemeenskap wat hul plaaslike skool bedags en selfs snags fyn dophou.”
Om enige verdagte aktiwiteit in die omgewing van ons skole onmiddellik by die SAPD of die Veilige Skole-blitslyn by 0800 45 46 47 aan te meld, kan die verskil maak om die oortreders vas te trek en gesteelde eiendom terug te kry.
As jy iets sien, praat.
Misdadigers wat ons skole teiken, moet geen plek in gemeenskappe hê om weg te kruip nie.



