Hierdie foto wys hoe booswigte ’n gat deur die dubbele muur geslaan het om toegang tot Vallei FM se hoofsender te verkry.Foto: Verskaf


Die gemeenskapsradiostasie Vallei FM in Worcester is sedert Saterdag (28 September) vanaf skuins na 05:00 van die lug af nadat vandale by die struktuur waar die hoofsender gestoor word ingebreek en die sender gesteel het.

Catherine Wiese, stasiebestuurder, sê die stasie benodig nou meer as R200 000 om die herstelwerk te doen. Volgens haar sal ’n goeie sender die stasie sowat R120 000 kos.

Wiese sê die booswigte het baie moeite gedoen om by die hoofsender uit te kom omdat dit moeilik is om die standplaas te bereik.

Volgens haar kon die boosdoeners nie toegang tot die sender kry via die deur van die struktuur nie. Hulle het toegang verkry nadat hulle ’n gat deur die dubbele muur geslaan het.

“Dit is ’n groot terugslag vir ons. As ons nie gou genoeg geld gaan kry nie, gaan ons luisteraars verloor. Sodra ’n luisteraar wil inskakel en hy of sy hoor niks, skakel hy of sy oor na ’n ander radiostasie.

“Die kanse dat hy of sy weer gaan terugskakel, is baie skraal.”

Wiese sê benewens die Breedevallei bedien Vallei FM ook die Langeberg- en Witzenbergstreke.

Volgens haar het Vallei FM in ’n stadium die derde meeste luisteraars van al die gemeenskapsradiostasies in die Wes-Kaap gehad.

Wiese sê ’n paar jaar gelede is daar ook by die hoofsender ingebreek. Die boosdoeners het toe die opsporingstoestel in die battery verwyder en met die battery op die vlug geslaan. Volgens haar was die battery sowat R12 500 werd.

Hoewel hulle van die lug af is, stream hulle darem nog. Die stream adres is valleyfm.ndstream.net.

Met betrekking tot die jongste voorval sê Wiese: “Ons het Maandag (30 September) reeds ’n paar mense gebel om te luister of hulle nie noodfinansiering het nie.

“Ons is ook besig om met maatskappye, trusts en stigtings te gesels om te hoor hoe hulle ons kan help.”

Volgens Wiese bedien Vallei FM meer as 3 000 plase. Om dié rede vra sy ook plaasboere om ’n finansiële bydrae te maak, asook Vallei FM se lojale luisteraars.

. Maak ’n bydrae by die volgende rekening:

Bank: FNB

Tipe Rekening: Business Call Account

Rekeninghouer: Valley FM Radio

Rekeningnommer: 63117112506

Verwysing: Noodhulpfonds

. Skakel Vallei FM se kantoor in Greystraat by 023 100 3303 met navrae.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article