Ghudian van Reenen, ’n reus van ’n jong man wat nooit toegelaat het dat die oproerigheid in Roodewal in Worcester sy roeping kniehalter nie, is vir die Junior Springbokspan gekies wat aan die Wêreldrugby o.20-kampioenskap 2023 gaan deelneem wat vandeesmaand afskop.
Dié 19-jarige Worcesteriet sê sy rugbydrome het vlamgevat tydens sy laerskoolloopbaan by Roodewal Primêre Skool.
Daar het dit gegroei van krag tot krag totdat hy by Worcester Gimnasium beland het.
“Op 16 is ek opgeneem in die o.16- Boland Grant Khomo-rugbyspan en later daardie jaar het ek ook die Suid-Afrikaanse o.16-rugbykampgroep gehaal.
“Tans is ek by die Vodacom Blue Bulls en gaan binnekort my land by die Junior Wêreldbeker verteenwoordig.”
Ghudian glo dat hy niks van dié prestasies sou bereik het as dit nie vir sy omstandighede was nie.
“Van waar ek kom, het ek dit nooit maklik gehad nie.
“Ek wou nog altyd die een wees wat dinge positief verander. Ek dank God vir my familie.”
Ghudian reken dat daar nie ’n gevoel is wat vergelyk kan word met dit wat hy ervaar het toe hy vir die Junior Bokke gekies is nie.
Vir hom was dit nog altyd ’n droom om eendag sy land te verteenwoordig.
. Die groepsrondes van die Wêreldrugby o.20-kampioenskap 2023 vind plaas op 24 en 29 Junie, en 4 Julie, met die twee uitspeelrondes op 9 en 14 Julie, wanneer die eindstryd by die Athlone-stadion in Kaapstad plaasvind.
Nader aan die huis kan inwoners die Junior Bokke op Donderdag 29 Junie in aksie sien wanneer hulle Italië by die Hoërskool Paarl Gimnasium pak.
Kaartjies teen R35 (kinders onder 12) en R55 (volwassenes) is by Ticketmaster beskikbaar.





