’n Worcesteriet verskyn tans in ’n toneelstuk, Die lig is blou, in die Artscape-teater, waarin hy die hoofrol vertolk.
Chester Miggels, ’n oudleerder van HTS Drostdy, was vir vier jaar ’n onderwyser voordat hy die besluit geneem het om sy droom te volg.
“Ek is nog altyd gefassineer deur toneelspel en die kuns van verskillende scenario’s uitspeel, maar my lewe het eers ’n ander draai geneem. Ná skool het ek onderwys gaan studeer en vier jaar in hierdie beroep gewerk.”
Hy was ’n onderwyser by ’n laerskool in Grabouw, maar het altyd gevoel sy loopbaankeuse vervul hom nie.
“Ek het altyd gevoel asof iets in my lewe ontbreek. My werk het my baie besig gehou en ek het nie tyd of plek vir kreatiwiteit gehad nie; ek het gevoel my werk beperk dit,” verduidelik Miggels.
Hy het toe die besluit geneem om by sy werk te bedank en om weer voltyds te gaan studeer.
“Ek het toe die geloofsprong geneem, bedank en myself ingeskryf om voltyds toneelkuns te studeer. Ek het ook besluit dat ek voltyds by die bedryf betrokke wil wees. Ek het onlangs ook Kaap toe getrek net om nader aan die hub van die bedryf te wees.”
Hy erken dinge het soms moeilik geraak voordat hy sy finale besluite geneem het, “maar ek het geweet dis wat ek wou doen en my werk het my nie die kans gegee om daardie droom voluit te leef nie.”
Hy het by ’n hele paar instansies aansoek gedoen en is nie aanvaar nie.
“Ek het toe eendag Kaap toe gegaan om nog ander plekke te gaan besoek nadat ek nog navorsing gedoen het. Northlink Kollege was een van die plekke wat ek daardie dag besoek het, ek het ook vir hulle ’n oudisie gedoen. Ek het dadelik net gevoel dit is waar ek hoort.”
Deur middel van sy kursus en die geleenthede wat dit bied, was Miggels al in verskeie ander toneelstukke en hy was selfs al in ’n kortfilm, maar hierdie is sy heel eerste keer as die hoofakteur van ’n stuk.
“Dit is vir my so amazing en ’n great geleentheid. Ek het al voorheen kleiner rolle vertolk in toneelstukke wat by die Artscape opgevoer is, maar nou vertolk ek skielik die hoofrol. En om ook nog die verhoog met ’n bekroonde aktrise, Crystal Donna Roberts, te deel, is ongelooflik. Dinge raak soms ’n bietjie oorweldigend, maar dan herinner ek net myself dat ek ’n oudisie hiervoor gedoen het en dit verdien om hier te wees.”
Hy is baie opgewonde oor die toneelstuk, Die lig is blou, wat van 20 tot 25 Junie by die Artscape te sien is.
“Ek is baie opgewonde – én senuweeagtig. Maar die senuwees is goed; dit help met die show. Ek is net so geseënd om hier te wees.”
Die toneelstuk handel oor die trauma wat daarmee gepaard gaan om ’n gay kind te wees, die soort boeliegedrag wat hulle moet deurmaak en hoe dit vir ’n gay kind is om in sy ouerhuis groot te word.
“Die storie is belangrik en relevant – veral omdat dit Jeug-maand is en boonop Pride-maand ook – en ek dink dis belangrik vir die jeug en grootmense om dit te sien.”
In die toekoms wil Miggels meer in die wêreld van film en TV invaar om sy ervaring uit te brei.
“Ek wil graag in musicals wees, want ek sing ook baie goed en kan dans ook. Ek sal graag ook ’n paar ligter rolle wil vertolk, want die afgelope tydjie het ek baie ernstiger rolle gehad.”
Vir diegene wat wik en weeg oor of hulle hul drome wil volg, sê hy: “Volg net jou drome en doen dinge tot die beste van jou vermoë. As jy jou in ’n situasie bevind waarin jy ongelukkig is, sit jou hart en jou kop daarop om jou drome te bewaarheid.”





