’n Jong kankeroorwinnaar van Worcester, Monique Blench, se droom van valskermspring het waar geword.

Credit: JP Myburg

Die droom van ’n jongeling van Worcester, by wie ’n seldsame soort kanker in 2021 gediagnoseer is, is onlangs bewaarheid.

Die 14-jarige Monique Blench van Worcester het daarvan gedroom om valskerm te spring. Sy het ’n besonder moeilike jaar agter die rug. Covid-19 is in Junie verlede jaar by hul gesin gediagnoseer en enkele weke later is sy ingelig dat sy ’n seldsame vorm van lewerkanker het.

“Monique het probleme met onder meer haar tande gehad en dit was asof haar groei belemmer was. Danksy Covid-19 en ons besoeke aan dokters het hulle ’n klomp toetse op haar gedoen en agtergekom sy het ’n gewas op haar lewer.

“Ons is ingelig dit is kwaadaardig – ’n seldsame lewerkanker,” vertel Monique se ma, Thelma le Roux.

’n Paar weke ná die diagnose is sowat 500 g van haar lewer verwyder, maar weens die aard van die verspreiding van die kanker was nog tekens van die kanker steeds sigbaar.

“Sy het toe met chemoterapie begin. Dit het haar hare laat uitval, maar wel die kanker wat nog sigbaar was, geteiken. Sy is deur wonderlike dokters en medici in die Kaap bygestaan. Sy is ontslaan en het toe huis toe gekom.”

Monique was ’n paar weke by die huis om aan te sterk en het op ’n dag ’n flou geval. Sy is dadelik na die hospitaal geneem.

“Ons het nie geweet wat is fout nie. Danksy die onkoloog in die Kaap het ons die regte mediese hulp gekry en die dokters het vasgestel sy het sepsis opgedoen en haar derm se wand is beskadig. Sy het nie ophou bloei nie. Ons is ’n keuse gegee – óf ons kyk toe hoe sy haarself doodbloei óf hulle opereer, maar die kans op oorlewing was skraal.”

Terwyl die dokters gereed gemaak het om te opereer, het haar bloed begin stol. Haar ouers en die personeel beskryf dit as ’n wonderwerk. Die operasie was toe nie nodig nie.

“Een oomblik is sy ’n gr. 7-leerder en die volgende oomblik veg sy om haar lewe. Geen ouer wil sy kind in so ’n toestand sien nie. Sy was geswel en het pyn gehad.

“Duisende mense het vir haar gebid en sy is deurgedra. Ons is dankbaar en vandag straal sy behoorlik. Natuurlik weet ons die toekoms is onseker, maar ons lewe vir nou.”

Sy het in die tweede kwartaal vanjaar weer by die skoolstelsel ingeskakel en toe haar hoërskoolloopbaan by Montana begin.

Een van haar drome is op 16 Oktober bewaarheid. “Danksy ’n paar weldoeners is haar droom bewaarheid. Sy het nog in die hospitaal vir ons gesê sy droom om valskerm te spring. Sy weet tot vandag toe nie waarom sy dit gesê het nie, maar dit was ’n belewenis.

“My hart het in my keel gesit. ’n Paar maande voor dit is sy in ’n helikopter na die hospitaal vervoer en ons het gehoop sy oorleef.

“Nou het sy uit ’n vliegtuig gespring. Dit is wonderlik. Ons is dankbaar vir Phillip Viljoen, Jaco van Dyk van Woes en alle ander rolspelers wat haar droom help bewaarheid het,” vertel haar ma.

Monique self sê die ervaring was ongelooflik.

“Dit was baie lekker. My asem is weggeslaan, maar dit was vreeslik lekker.”

Haar ma sê Monique wil binnekort rekspring. Haar familie wil ook vir haar ’n geldinsamelingsblad aanlyn begin om die rekeninge te help betaal.

“Ons is dankbaar vir die hulp wat ons tot dusver ontvang het. Baie geld is nog agterstallig en ons wil graag voorberei vir wat ook al kan kom. Sy is in remissie, maar die pad vorentoe is vir ons almal onbekend.”

Thelma verduidelik ook sy is besig om ’n boek te skryf en sy hoop dit sal ander inspireer.

“Monique was ’n wonderwerk-baba. Daar is soveel goed in haar storie wat ek dink ander sal inspireer.”

Thelma kan gekontak word by lerouxthelma69@gmail.com

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article