Hy het in die kerk grootgeword en was ’n belowende, talentvolle jong akteur wat al die verhoog met groot name in die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf gedeel het.
Heinrich Burger se vurige passie vir die verhoog is egter gou geblus toe hy met dwelms begin eksperimenteer het. Toe hy sy oë uitvee, bevind hy hom in die Kaapse middestad waar hy rondgeswerf en met bosslapers uitgehang het.
Sy ouers het egter nooit moed opgegee nie en vir hom bly bid.
Hul gebede en dit van die kerkmense is verhoor en vandag is hy ’n pastoor wat aan hoof staan van die Bethesda Pinkster Gemeente in Worcester.
Burger (37) van Avianpark in Worcester skryf die positiewe ommekeer in sy lewe toe aan sy Hemelse Vader.
Burger, ’n pa van vyf seuns, het in die Riverview-woonstelle in Worcester grootgeword. Volgens hom het hy in graad 11 begin sigarette rook, waarna dagga en toe tik gevolg het.
Hy sê ’n onderwyser by Breërivier Senior Sekondêr, waar hy skool gegaan het, het sy dramatalent raakgesien en hom by die skool se dramagroep betrek.
Volgens Burger het hy saam met groot name in die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf opgetree by onder meer die Suidoosterfees en Montag -Jeugfees.
Hy sê sy dwelmverslawing het daartoe gelei dat hy belangstelling in drama en skool verloor het. Burger het skool verlaat toe hy nog in graad 11 was. Dit was die begin van sy dwelmhel.
“By tye het ek gesteel om geld te kry vir dwelms. Ek wou ook nie onder gesag staan nie. Ek was baie aggressief in die huis, veral wanneer ek onttrekkings gekry het.
“My ouers wou dan nie hê ek moet die huis verlaat nie. My aggressie het gemaak dat ek al halflyf by my kamer op die boonste verdieping van ons woonstel uitgehang het – net om uit te kom.
“Ek was vuil en het gestink. Ek het nie omgegee hoe ek lyk nie. Ek was vervalle, verwaarloos en het soos ’n kopbeen gelyk.”
Hy sê sy dwelmverslawing het so erg geraak dat hy later nie meer hoog geraak het wanneer hy tik gebruik het nie.
Volgens Burger het hy kort hierna die pad Kaap toe gevat om by sy een tante te gaan woon. Hy sê die tante het moeilik met hom begin raak omdat hy nie gewerk het nie.
Dis toe dat hy in die Kaapse middestad beland het, daar rondgeswerf en met bosslapers uitgehang het. Hy sê in daardie stadium het hy nie meer dwelms gebruik nie, omdat hy “soos ’n siek hond” gevoel het wanneer die dwelms uit sy liggaam trek.
Burger sê hy het baie na sy ouerhuis verlang en het dit op ’n dag reggekry om sy ma te bel.
Hy sê op 31 Oktober 2010 het een van sy ander tantes, wat in die middestad woon, hom op ’n trein terug Worcester toe gesit.
In Januarie 2011 het hy sy vrou, AnnaMarie, ontmoet en in 2013 is hulle getroud. Kort ná hul troue het hulle hul harte vir die Here gegee. Volgens Burger was hy vir drie jaar ’n jeugleier.
Burger sê toe hy in ’n stadium werkloos was, het hy verskeie aanlyn vaardigheidskursusse gedoen, wat hy suksesvol voltooi het. Hy het intussen ook sy matriek voltooi en werk vandag vir Vector Logistics.
Verlede jaar is hy georden tot pastoor. “Ek glo dis net die genade van die Here en gebede wat my tot hier toe gedra het asook die ondersteuning van my ouers, vrou en kinders.
“Baie mense kan hieruit leer. Daar is altyd hoop,” het hy bygevoeg.





