Van inskrywings op ’n Facebook-groep na ’n gedrukte boek.
Só begin Christina Koen se verhaal.
Sy het in 2020 by die groep aangesluit en gereeld stories oor haar lewe daar gedeel.
“Die Facebook-groep, Food Fairies, is ’n groep waar mense hul komvandaan- stories en resepte deel. Ek het sedert 2020 gereeld stories daar gedeel en in 2023 het ek net eendag besef ek het al soveel inskrywings gemaak en dit is eintlik genoeg om ’n boek daarvan te maak. Ek het so te sê die helfte van ons lewe daar aangeteken,” verduidelik sy vanaf haar huis in Rawsonville.
Die boek is getiteld My pappa braai, my mamma maak slaai en is propvol staaltjies en resepte.
“Die titel van die boek is dubbelsinnig. Toe my kinders jonk was en hulle was besig om die aai-klank op skool te leer, het hulle altyd geskryf ‘my pappa braai en my mamma maak slaai’. Die ander rede vir die titel is – my man is ’n private sjef en ons bied ook ’n steak-meesterklas aan. Wanneer hy dus braai of ons bied byeenkomste aan, dan braai hy en ek maak die slaai.”
Sy het verlede jaar begin om haar inskrywings in ’n boek te omskryf.
“Ek het die volgorde van hoe dit op Facebook geplaas is, gevolg, en hier en daar inligting wat ontbreek het, bygevoeg en ’n paar ekstra stories geskryf sodat alles sinvol kon wees.”
Sy het hoog en laag na ’n uitgewer gesoek, maar uiteindelik besluit om die boek self uit te gee.
“Ek wou nog altyd ’n skrywer wees. Toe ek ná ses maande niks van die uitgewers hoor nie, het ek besluit om dit self te laat druk. Ek het net 100 boeke laat druk, en die terugvoer van lesers was so ver nog baie positief. Mense sê dis ’n lekkerleesboek. Ek het baie professionele hulp van proeflesers en boekredakteurs gekry. Ek is reeds besig met die opvolgboek.”
Koen en haar gesin het in die pandemie na die Breedevallei verhuis en bieg sy sal dit nooit weer verlaat nie.
“Vandat ons in die Boland woon, is dit vir my baie makliker om te skryf. Dis baie stiller hier en dis iets wat ek nodig het wanneer ek soms tot nege ure per dag skryf.” . As jy die boek wil koop, bel Christina by 079 061 9826.





