Valleiers trek die afgelope maande geweldig swaar danksy stygende kospryse en inflasie.Foto’s: JP Myburg


Dit blyk of valleiers die komende Kerstyd hul sente ’n hele paar keer sal moet omdraai en dit net om kop-bo-water te hou.

2022 was ’n jaar met groot struikelblokke vir talle inwoners, veral in die lig van stygende kos en- brandstofpryse en die impak wat inflasie op allerlei onkostes en tariewe gehad het.

“Hoe hou ’n mens die pot aan die kook, maar jy kan nie eens bekostig om iets in die pot te sit nie?”

So sê Ailene Olifant (37), ’n inwoner van Riverview. Sy en haar man werk albei in en om ander mense se huise – sy as skoonmaker en hy as tuinman.

Olifant se sy en haar man kan nooit staatmaak op ’n permanente inkomste nie omdat hulle maar hier en daar loswerkies aanvaar.

“Party weke kry ons maar saam R300 en ander weke ’n bietjie meer. Dit gebeur ook dat ons soms niks kry nie. Ons maak maar staat om hier en daar by mense se huise te werk, maar dit is net as hulle ons nodig kry.”

Sy sê hulle het twee kinders wat by hulle woon en die nood loop gereeld hoog in die huishouding.

“My dogter is 17 en ons seuntjie is vyf. Hulle kort gereeld goedjies vir skool, maar hoe moet ’n mens nee sê? Hoe moet ek hulle in die oë kyk en sê ek kan nie? Dit breek my hart. Ons veg om te oorleef. Om kos op die tafel te kry en ten minste krag te hê, is maar ons nommer-een-prioriteit,” verduidelik sy verder.

Olifant verduidelik ook die invloed wat duurder kragpryse op hulle as ’n gesin het:

“Ons het elke maand sowat R200 se krag gekoop, en daarmee het ons uitgekom. Van verlede maand af betaal ons R370 vir krag. Dit is baie. Ons bid maar elke aand dat ons situasie sal verander. Ek soek iets meer permanent en my man probeer ook sy bes, maar met sy kroniese asma en depressie is dit ’n gesukkel.

“Ek kon drie jaar terug met R100 kookolie, ’n brood, melk en bone vir sop koop. As ek dit vandag gaan koop, betaal ek dubbel daardie bedrag.

“Hoe moet ons nou oorleef – alles kos amper dubbel en ons inkomste het nie saam met dit gegroei nie.”

Kinders in die vallei voel ook die impak van hul omstandighede wat spruit uit die ekonomiese krisis, maar sal steeds bly glimlag.

Die Williams-gesin se patriarg, Solomon (55), vertel dat dit met hom en sy dogter net so swaar gaan.

Hy is die enigste broodwinner en sy vrou is in 2020 aan Covid-19 oorlede.

Hy is ook ’n enkelouer wat probeer om die moeilike tye te oorkom.

“My vrou het as ’n skoonmaker by die ‘mall’ gewerk en het ’n redelike inkomste verdien.

“Ek het in Ashton op ’n kontrakbasis gewerk om te help paaie bou, maar die kontrak het tot ’n einde gekom. Nou maak ek maar houtgoedjies en probeer om dit te verkoop.

“Ek doen ook hier en daar staalwerk en wag dat iemand my laat weet van iets. Ek stuur my CV orals,” verduidelik hy.

Selfs kleuters moet soms deur die asblikke grawe op soek na ’n vonds om huis toe te neem. Hier het twee kleuters op ’n sak aartappels afgekom tussen ou bierbottels, geskeurde klere en ander afval.
Selfs ’n ou, stukkende bed op ’n ashoop kan vermaak bied.

Volgens Business Insider het pryse in Suid-Afrika die afgelope drie jaar geweldig gestyg. Navorsing wys dat kospryse met gemiddeld tussen 10% en 16% gestyg het, met uiterste gevalle soos kookolie wat met bykans 35% gestyg het. Brandstof het ook met sowat 40% gestyg en krag en basiese dienste met tussen 15 en 25%.

Standard het in talle areas van die dorp gaan rondry om by inwoners self te hoor wat hul opinie is oor stygende pryse en die impak wat dit het op hul beplanning vir die Kersseisoen.

In ’n kwessie van bykans twee ure, het vier persone vir Standard genader om ’n skenking of donasie te maak – hetsy vir kos of kontant. Dit is beduidend op die feit dat valleiers swaar trek en dat daar ’n groot behoefte in die gemeenskap heers.

Giving Wings, ’n organisasie sonder winsbejag, wat elke week kospakkies en warm etes aan straatbewoners en behoeftiges in die vallei skenk, verduidelik dat dit vir hul duidelik is dat al meer mense sukkel om kop bo water te hou.

“Ons het gewoonlik baie mense gehelp met kospakkies. Dit is ’n projek wat danksy Covid-19 ontstaan het en het in 2020 ons eerste projek aangepak. Ons behoeftelys sedertdien het sekerlik 400% gegroei tot by die punt waar ons vandag is. Ons gee vir bykans 500 volwassenes en kinders kos op ’n gegewe tyd. Ons is nog een van die kleiner organisasies. Hoeveel doen die kerke dan nie en al die ander wonderlike organisasies hier rond? Dit is eintlik so hartseer,” verduidelik die voorsitter, Carmen Chestor.

Chestor voer ook aan dat dit veral kinders is wat die ergste ly.

“Ons sien soveel kinders wat honger is. Ons sien kinders wat ou botterbakkies of roomysbakke bring om kos te kom afhaal. Ons kinders in die streek ly die ergste, maar as jy op enige gegewe tyd deur ons strate ry sal jy ook sien dat dit hulle is wat met die grootste glimlagte baljaar.”

Juenieta Everson van Sandy’s Eden, ’n plaaslike organisasie wat dierebeskerming uitvoer, meen ook dat ’n omgewing of streek se gesondheid gemeet kan word aan hoe goed (of sleg) hul diere versorg word.

Sy is egter van mening dat hier bitter baie gevalle van verwaarlosing is van troeteldiere en diere wat hongerly.

Weerlose troeteldiere moet ook soms in die gemors vir hul volgende maaltyd gaan soek.

’n Inwoner van Roodewal, Karel Moses, vertel aan Standard dat hy gereeld honde in die straat sien op soek na ietsie te ete.

“Die honde kom ruik hier tussen die gemors rond of hul iets kan kry om te eet. Dit is baie hartseer. Ek sal probeer so nou en dan brood gee of van my honde se kos, maar almal ly en trek swaar. Ons mense, ons diere, kinders. Niemand word meer deesdae gespaar nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article