Die Vallei FM-span is agter, van links, Jonty Lennert, Paul Maarman, Ronnie Apollis, Benson Hlope en Leon Jacobs. Voor, van links, is Marianne Dekker, Keilyn Kelley en Catherine Wiese. Regs agter die mikrofoon is Elaine Sacco. Foto: Enrico Claassen


Vallei FM vier vanjaar sy 21ste bestaansjaar en as deel van sy verjaardagvieringe bied dié gemeenskapsradiostasie ’n Gospel Fest Conference aan wat op 15 September in die Worcester-stadsaal gehou sal word.

Dié gospelfees, wat na verwagting honderde mense van heinde en ver sal trek, word aangebied in samewerking met die bekende gospelsanger Barenice Wilskut van Barenice Wilskut Music Ministries (BWMM) in Worcester.

’n Opgewonde Wilskut sê aan Standard & Breederivier Gazette die kunstenaars wat sy genader het om by die fees op te tree is ook baie opgewonde daaroor.

Kunstenaars van die Breedevallei en Witzenberg- en Langebergstreek sal by die fees optree.

Van die talentvolle kunstenaars wat gaan optree, sluit in Amedja Williams van Worcester, Lorenzo Grispe en Manfred Matthews – albei van De Doorns – en Ceanan Ryan van Ceres.

Daar gaan ook dinamiese dansgroepe optree. Pastoor Dennis Scheepers sal die seremoniemeester wees.

“Mense moet na die fees kom omdat dit ’n geestelike verrykings-gebeurtenis is wat gaan plaasvind. Mense kan hulle kom uitleef in die teenwoordigheid van die Here en net om dankie te sê vir die Here.”

Elaine Sacco, omroeper by Vallei FM, sê daar word beoog om dié gospelfees ’n jaarlikse instelling te maak.

Kaartjies kos R80 vir volwassenes en R30 vir kinders van 12 jaar en jonger. Die kaartjies is van 1 Julie verkrygbaar by Vallei FM se kantore in Greystraat, Worcester, asook by Wilskut. Verversings sal by die fees te koop aangebied word.

Die verrigtinge begin 17:00.

. Kontak Wilskut by 065 888 1835 met navrae of vir besprekings.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article