Diana Ferrus, boorling en trots van Worcester, word nogmaals vir haar bydrae tot Afrikaanse skrywe gehuldig.
Hierdie keer word sy in September by die twaalfde Tuin van Digters-fees vereer. Die fees word jaarliks deur die Breytenbach Sentrum op Wellington aangebied. Ferrus meen hierdie huldiging is ’n groot eer.
“Die sentrum en ek kom al ’n lang pad. Hulle het my gevra om kreatiewe skryfwerksessies daar aan te bied in 2012. Natuurlik is ek baie opgewonde; die sentrum bevestig sy vertroue in my as fasiliteerder en digter.”
Dié protes-digter, soos daar na haar verwys word in ’n mediaverklaring oor die fees, sê hierdie fees is een van die belangrikste vir digters.
“Die Tuin van Digters huldig digters vanoor ’n hele spektrum. Die fees is een van die belangrikste vir digters. Ek en my groep is sedert die begin deel van die fees.
“Hierdie fees is een waar ons nuwe werk kom voorlees en toets. Hier sien ons ook gunsteling-digters, rymkletsers en musici sowel as visuele kunstenaars. Dit is ’n fees wat ek nooit wil mis nie. En natuurlik dat Breyten Breytenbach gedurende dieselfde fees sy kunswerk gaan uitstal, is ’n groot pluspunt.”
Die Tuin van Digters-fees se tema is vanjaar “Lewende woord(e)”. Ferrus verduidelik wat dit vir haar beteken: “Ek sou sê lewende woorde is woorde wat ’n leser of gehoor raak, en moet woorde wees wat indringend praat met ’n leser of die gehoor. Dit moet woorde wees wat goed uitgedink is vir maksimum effek van klank, metafore en ander elemente van die digkuns. Lewende woorde moet hoop gee, moet mense bymekaarbring en veral die digter laat met ’n gevoel van accomplishment.”
Sy is ook van mening dat die titel protes-digter haar goed pas.
“Daar word baie titels aan my toegedig. Protes-digter pas my goed. Dit beteken ook dat mense my werk gelees het en verstaan waaroor ek skryf. Natuurlik wil ek vergrype aanspreek, van die verlede en die huidige,” sê sy.
Hierdie lewende legende vier ook oor ’n paar maande haar 70ste verjaardag.
“Ek beskou 70 as ’n groot mylpaal, so baie in my familie en van my vriende kon dit nie haal nie. Dis nog amper twee maande om te gaan.
“Ek bid vir gesondheid sodat ek my harde werk oor die jare kan vier saam met familie en vriende wat in my glo, dié wat my geleenthede gegee het om te groei en veral liefhebbers van my werk.
“Dit sluit in my groep, Di Mengelmoes-digters, en alle kunstenaars wat daar sal wees.”
Al vier sy ’n groot mylpaal-verjaardag is daar nog geen teken dat Ferrus van plan is om uit te tree uit die skryfwêreld nie.
“Ek en die Mengelmoes-digters gaan ’n bundel uitgee. Ek self wil twee bundels, een in Engels en een in Afrikaans, uitgee. Ek hoop ook om my memoires klaar te skryf. Ek werk met baie mense, oud-Worcesteriet June Esau het haar boek klaar geskryf, wyle Cecyl Esau se klasmaats se boek is amper klaar. Clint Abrahams, ’n jong argitek wat klasgee by die Universiteit van Kaapstad, se gemeenskapstorievertelprojek is ook amper klaar. Ceres het ook ’n groep met wie ek wil werk. Hulle is matrikulante van 1985 wat nie toegelaat is om eind-eksamen te skryf nie. Dit is maar ’n paar van die projekte wat nog voorlê.
“Ek wil nog skryfwerksessies in Worcester kom aanbied. Ek wil graag met die munisipaliteit praat daaroor. Daar is ’n groot behoefte.” Die Tuin van Digters-fees word op 15 en 16 September gehou en die huldiging sal op die 15de plaasvind by die Breytenbach Sentrum.





