Wilmur Valentine, wat skuldig bevind is dat hy destyds sy meisie, Erin Fourie, sowat 22 keer gesteek het, is tot tronkstraf en huisarres gevonnis.Foto:

Credit: SYSTEM

Die hofsaak oor een van die mees skokkende voorvalle van geslagsgebaseerde geweld in Worcester het Dinsdag uiteindelik tot ’n einde gekom.

Wilmur Valentine, wat daarvan aangekla is dat hy sy destydse meisie, Erin Fourie, in 2021 by Worcester Sekondêre Skool 22 keer met ’n mes gesteek het, is Dinsdag (26 April) in die streekhof direkte tronkstraf opgelê vir ’n gedeelte van vyf jaar, met huisarres vir die res van die tydperk.

Dit kom ten spyte daarvan dat die staat en Valentine ’n pleit- en vonnisooreenkoms wou aangaan wat nié direkte tronkstraf behels het nie. Die landdros het met Valentine se vorige verskyning gesê hy wil eers die ooreenkoms bestudeer, maar het dit nie in sy finale uitspraak aanvaar nie.

Standard het op 7 April (“Steker beken skuld”) berig oor Valentine wat skuld beken het. Die pleit- en vonnisooreenkoms, wat op 6 April in die hof voorgehou is, het ’n opgeskorte vonnis en huisarres vir vyf jaar behels.

Die saak is tot Dinsdag uitgestel sodat die landdros die pleit- en vonnisooreenkoms kon nagaan om seker te maak dit is regverdig.

Die versagtende omstandighede sluit in die beskuldigde se persoonlike omstandighede, asook Fourie (die klaagster) se gevoelens dat sy nie met die saak wou voortgaan nie. Dit is opgeweeg teen gemeenskapsbelang en regspresedent. Die landdros het gesê dit is sy plig om ’n balans tussen dié aspekte te vind en ’n gepaste vonnis op te lê.

By hervatting van die saak Dinsdag het die landdros ’n breedvoerige uitspraak gegee waarin hy aangedui het dat hy nie net gelei kan word deur die slagoffer se gevoelens ten opsigte van die impak op haarself nie, soos uiteengesit in die slagoffer se impakverslae wat ingedien is.

Maar, hy neem ook in ag die uitgebreide belange van die breë gemeenskap ten opsigte van die wyse waarop die misdaad gepleeg is, sowel as die impak op die opvoeders en leerders by die betrokke skool, wat ook ’n indirekte belang by die saak het.

Die hof het toe in ooreenstemming met die bepalings van Artikel 105A van die Strafproseswet ’n alternatiewe vonnis voorgestel wat anders is as die vonnis waartoe die slagoffer as deel van die pleitooreenkoms ingestem het.

Die vonnis behels dat die beskuldigde ’n deel van die vyf jaar direkte gevangenisstraf in die tronk sal uitdien en by vrylating vir die oorblywende tydperk van die vyf jaar onder toesig van Korrektiewe Dienste sal wees.

Sou Valentine ná sy vrylating uit die gevangenis enige van die voorwaardes van korrektiewe toesig oortree (huisarres, gemeenskapsdiens en bywoning van maatskaplike programme), kan die korrektiewe toesig weer omgeskep word en moet hy dan die oorblywende termyn agter tralies uitdien.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article