Ashton se vaardigheidskool open hopelik volgende jaar.
Ashton in Action het ’n paar jaar gelede na die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) uitgereik en ’n memorandum is onderteken.
“Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement het ’n ooreenkoms met die bedryfsvennoot, Ashton in Action, onderteken. Die skool sal in samewerking met hulle gebou word,” het Millicent Merton, ’n woordvoerder van die WKOD, destyds gesê.
Opknappingswerk aan ’n gebou sal in Mei begin.
“Gesprekke om ’n vaardigheidskool te open, het ’n paar jaar gelede begin. Die skool sal by The Haven in Industriaweg, Ashton, geleë wees. Opknappingswerk aan die bestaande geboue sal na verwagting in Mei begin.”
Volgens die departement word beoog om die skool amptelik in 2025 vir leerders oop te stel en jaar ná jaar meer leerders in te faseer.
“Die bedoeling is om die skool in 2025 met 60 leerders in die eerste jaar te open en jaar ná jaar te vermeerder met ’n bykomende 60 leerders per jaar van jaar een tot jaar vier. Die skool sal uiteindelik 240 leerders van jaar een tot jaar vier akkommodeer.”
Volgens Amanda de Wet van Ashton in Action het dié organisasie sonder winsbejag al in 2021 na die WKOD oor hul idee vir ’n vaardigheidskool uitgereik.
“Ons het in 2021 na die departement uitgereik met ons idee vir ’n vaardigheidskool. In November 2022 het hulle vir ons ja gesê. En verlede maand het ons die kontrak gekry,” verduidelik De Wet.
Ashton in Action is in November 2020 gestig met die doel om die dorp te verfraai. Maar later het De Wet en die stigterslede begin praat oor die dorp en die behoeftes van kinders. “Ek wou aanvanklik ’n robotika-program vir die kinders hier begin. Maar toe kom Patricia met die idee van ’n vaardigheidskool vorendag, sodat ons die kinders iets meer kan bied.”
Gemeenskapslede en lede van Ashton in Action is almal ewe opgewonde oor die skool. Heelwat werk lê egter nog voor.
“Die WKOD gee vir ons 40% van die geld. Dit sal dan die bou van die skool dek. Ons moet die ander 60% self werf. Dit sal dan alles dek wat binne-in die skool sal gaan. Die departement sal dan die skool se bedryfskostes dek. Ons wil ’n skool bou waarop die kinders en die gemeenskap trots kan wees. Ons gaan ook onderrig in beide Afrikaans en Engels aanbied.”
Hoewel presiese syfers nie nou al beskikbaar is nie, sal die skool ook verskeie werksgeleenthede vir die plaaslike gemeenskap skep.




