Na afloop van die laaste wedstryd in die Boland Premierliga het Worcester United sy tweede plek in die streek verseker. Slegs Maties kon daarin slaag om bo hulle te eindig.
United beleef ’n droomseisoen deurdat hy reeds die T20 Premierliga-kampioen is en sy vrouespan en tweede spanne ook hul onderskeie ligas geklop het.
United se eerste span het hul ligaverpligtinge die afgelope Saterdag op Bolandpark, Worcester, afgesluit waar hulle te staan gekom het teen Maties se tweede span, Victoriane.
Victoriane word afgerig deur die voormalige Protea- en WP-krieketspeler Rory Kleinveldt.
United het die loot gewen en besluit om eerste te kolf op wat gelyk het na ’n hondmak kolfblad waarop 200 plus lopies beslis haalbaar sou wees.
United verloor sy eerste 3 paaltjies met 41 lopies op die telbord. Byron Buys het op nommer vyf ingestap en hom gevoeg by openingskolwer Warren Davids. Hierdie twee het mooi gekonsolideer en veral met enkellopies die telbord aan die rol gehou.
Davids verloor egter sy paaltjie met die telling op 82 en sorg saam met Buys vir ’n hardwerkende vennootskap van 41 lopies. Davids teken 30 lopies aan vanaf 67 balle met drie grenshoue. Mario Marinus, die vonds van die seisoen, het hom gevoeg by Buys en saam sorg hul vir ’n vennootskap van 89 lopies van net 63 balle. Marinus het weer eens die ankerrol vervul en die slag geroteer en Buys gehelp tot sy vyftigtal. Buys verloor sy paaltjie met sy telling op 58 lopies wat hom net 47 balle in beslag neem. Hy slaan ses pragviere en twee sierlike sesse.
Marinus verloor dan ook sy paaltjie kort daarna vir 34 lopies vanaf 66 balle. United bevind hul skielik op 175/6, maar die ervare Geraldo Cremon en kaptein vir die dag, sorg vir verdere opwinding en teken ’n blitsige 27 lopies van net 29 balle aan met drie grenshoue. United stort hierna in duie en word almal vir 229 lopies uitgeboul in die 49ste boulbeurt.
Die groot uitblinker met die bal vir Victoriane was Aiden Meyer met pragsyfers van 5/50 in 8.4 boulbeurte. Victoriane sit goed af en was op n stadium 75/0. Die 16-jarige Zander Booysen is gevra om te boul en dadelik neem hy die eerste paaltjie toe hy die aanvangskolwer van Victoriane, Niel Eksteen, vir 49 lopies skoonboul.
Eksteen neem 72 balle in beslag en teken 5 grenshoue aan. Booysen neem nog ’n verdere paaltjie en laat die lopies opdroog. Hy eindig met ’n ontleding van 2/37 in sy toegelate 10 boulbeurte.
Saam met Booysen het Javier Visser die middelorde verder frustreer en neem uiteindelik 3/38 van 9 boulbeurte. Victoriane op 173/5 het nog ’n kans gestaan om die wedstryd te wen, maar Byron Buys, die man van die wedstryd, steek ’n stokkie daarvoor en maai die eindkolwers af met slim en akkurate boulwerk.
Buys is verwoestend en spog met ongelooflike boulsyfers van 4/1 vanaf 2 boulbeurte. Vezi Mntungwa was die enigste Victoriane-kolwer wat saam met Eksteen weerstand kon bied. Hy teken 46 lopies aan van 50 balle met twee viere en en twee sesse.
United wen die wedstryd met 53 lopies, wat hulle ná Maties tweede laat eindig in die 50-boulbeurte Premierliga-kompetisie van Krieket Boland.
V Eerskomende naweek speel United tuis in sy laaste ligawedstryd van die seisoen teen die tweede span van Van der Stel op Bolandpark, Worcester.





