Worcester United se tweede span het sy ligaverpligtinge die afgelope Saterdag op Bolandpark in Worcester afgesluit. Die span het te staan gekom teen die tweede span van Stellenbosch en Distrikte.
United II het die loot gewen en dadelik besluit om eerste te kolf – op ’n blad wat vol lopies was die laaste twee maande van die seisoen. United II verloor sy eerste paaltjie met die telling op 30 lopies toe openingskolwer Nano Amsterdam moes terugstap vir 10 lopies. Die ander aanvangskolwer Warren Davids hou egter kop en teken goeie 38 lopies vanaf net 33 balle aan met 5×4.
United II verloor nog ’n verdere twee paaltjies en bevind hom, ná 20 boulbeurte, effe in die moeilikheid op 84/4. Byron Buys en Geraldo Cremon sorg egter vir ’n briljante vennootskap van 95 lopies om die sesde paaltjie. Albei die kolwers behaal dan ook hul 50-talle. Buys teken 58 lopies vanaf 77 balle aan met 2×6 voor hy skoongeboul word. Cremon teken ’n onoorwonne 75 lopies aan vanaf 94 balle met 5×4 en 1×6. Onoorwonne saam Cremon was A.D. du Toit met 26 lopies vanaf 36 balle met 1×4.
United verloor effe stoom teen die einde, maar teken tog ’n respektabele telling van 239/5 in sy 50 boulbeurte aan, wat Distrikte die taak laat om 240 lopies aan te teken. Beste bouler vir Distrikte was Allister Poole met pragsyfers van 4/28 in sy 10 boulbeurte. Distrikte verloor sy eerste twee paaltjies vir 37 lopies en op 70/3 lyk dit of hy nog ’n goeie kans het om die wedstryd te wen. Kaptein JP Swarts bring homself in die aanval saam met die tiener Zander Booysen. Saam maak hulle korte mette met die middel- en lae-eindkolwers en boender die hele spulletjie uit vir 143 lopies. Booysen neem 5/34 van agt boulbeurte. Dít ná sy 4/37 die vorige week en is beslis een van die vondse van die seisoen. JP Swarts ondersteun Booysen goed en behaal die ongelooflike boulsyfers van 3/3 van 2.2 boulbeurte. Adrian Barros is al Distrikte-kolwer wat enige weerstand kon bied en eindig onoorwonne op 64 lopies vanaf net 63 balle met 6×4 en 3×6. United II wen die wedstryd oortuigend met 96 lopies. Hierdie naweek is ’n belangrike gebeurtenis in die krieketgeskiedenis van die klub wanneer hy gaan poog om die Wes-Kaapse T20-kampioen te word en speel komende Sondag op Nuweland teen die SWD se T20-kampioen, George, en teen WP se T20-kampioen, WP-krieketklub. United I is die Boland se T20-kampioen. Die wedstryd kan gevolg word op die Facebook-blad van die klub waar tellings deurlopend deurgegee sal word.





