Worcester United se tweede krieketspan het die afgelope naweek die Boland-premierliga vir tweede spanne gewen.
Worcester United se eerste en tweede spanne het die afgelope Saterdag te staan gekom teen die eerste en tweede spanne van Vredenburg-Saldanha.
Die tweede span het tuis op Bolandpark in Worcester gespeel, terwyl die eerste span na die Baai gereis het.
In die tweedespanwedstryd het United 2 die loot gewen en besluit om eerste in ideale koel weerstoestande te kolf op ’n blad wat goed vir kolfwerk gelyk het. United het sy eerste paaltjie vroeg verloor met die telling op 11 lopies ná vier boulbeurte.
Shaun Fata en kaptein Warren Nimrod het ná die tweede paaltjie bymekaar gekom met die telling op 29. Fata het veral beïndruk met goeie temperament en houekeuses. Hy is goed bygestaan deur Nimrod, wat die telbord met enkellopies aan die rol gehou het en die slag vir Fata, wat al meer aggressief gekolf het, roteer.
Nimrod het sy paaltjie met 32 lopies agter sy naam verloor. Fata het hierna beheer oorgeneem en die VBS-boulers na al die uithoeke van die veld gejaag. Fata het gereeld kolfmaats verloor, maar daarin geslaag om ’n uitstekende, hardwerkende honderdtal aan te teken. Fata het uiteindelik 110 lopies van net 120 balle (7×4 en 3×6) aangeteken.
United is hierna almal in die 42ste boulbeurt vir 193 lopies uitgeboul. Uitblinkers met die bal vir VBS was Roderick Bester (4-24-9.5) en Dewald Williams (3-43-7).
VBS het nie goed begin nie en was gou kniediep in die moeilikheid met sy telling op 101/5, maar Cecil Jooste en Jaden de Water het hardnekkig weerstand gebied en die telling tot 155/7 geneem met albei wat hul paaltjies verloor het.
Die wedstryd het op ’n spannende einde afgestuur, maar VBS kon nie die volgehoue druk van United se boulers deurstaan nie en is almal vir 171 lopies uitgehaal, wat aan United ’n oorwinning van 22 lopies besorg het. Hiermee het United sy ligakompetisie van Boland-premierliga se tweede spanne gewen.
Die beste boulers vir United was JP Swarts (3-28-10), Christo Lukas (2-28-4.5) en Warren Nimrod (2-24-7).
United se eerstespanwedstryd het eers om 12:45 begin nadat die blad ná ’n onverwagse reënbui te nat was. Die wedstryd is tot 39 boulbeurte beperk.
United het die loot gewen en eerste gekolf. Die span het vir die eerste keer in die seisoen se 50-boulbeurtkompetisie goed begin en sy eerste paaltjie eers op 74 lopies ná 21 boulbeurte verloor.
Warren Davids en Javier Visser was die nuwe openingspaar en het ’n goeie grondslag vir die middelkolwers gelê. Davids het 42 lopies van 85 balle aangeteken, en Visser 33 van 60 balle. United het tot 144/5 in 31 boulbeurte gevorder met Brendon Erasmus wat momentum verskaf het en ’n uitstekende onoorwonne 54 lopies van net 57 balle aangeteken.
Hy is aan die einde goed deur Byron Buys ondersteun, wat ’n goeie warrelwindbeurt gespeel en 37 lopies van net 27 balle aangeteken het.
United het ’n uitstekende 182/4 in sy toegelate 39 boulbeurte aangeteken. Die beste boulers vir VBS was Deon Smith (2-49-7) en Morne Kannemeyer (2-25-8).
VBS het nie goed begin nie en gereeld paaltjies verloor. Hy was op 104/6 met die rug teen die muur, maar die bult te steil gevind om te klim en is almal vir 115 uitgeboender, wat United ’n gemaklike oorwinning van 67 lopies besorg het. Charlie Fransman het die beste met die bal vir United gevaar (3/18 van 7.1 boulbeurte). Byron van Wyk (VBS) het ’n moedige 29 lopies van 34 balle aangeteken.. United 1 speel hierdie naweek sy laaste ligawedstryd tuis teen die Victoriane op Bolandpark. Die tweede span sal ’n loslootjie geniet.





