Mense wag in lang rye om hul nuwe Sassa-kaart te kry.Foto: Ronél van Jaarsveld


Ontvangers van maatskaplike toelaes het verlede week ure lank tougestaan om hul goue Sassa-kaarte vir die nuwe swart Postbank-kaarte te ruil.

Die spertyd hiervoor is verlede week van 28 Februarie tot 20 Maart verleng.

Volgens ’n gesamentlike verklaring deur die minister van kommunikasie en digitale tegnologie, Solly Malatsi en dié van maatskaplike ontwikkeling, Nokuzola Tolashe, het hulle gehoor gegee aan die bekommernisse en frustrasies oor die oorgangsproses en besluit om die tydperk te verleng.

Hulle het mense aangemoedig om hul nuwe kaarte so gou as moontlik te verkry.

Vrydagmiddag, kort voor 16:00, het ’n lang ry mense steeds in Durbanstraat in Worcester gestaan. Die mense was moeg en ontsteld omdat hulle sedert vroeg die oggend in die ry was en moontlik nie daardie dag gehelp sou kon word nie. Daar was slegs een tafel om die lang ry mense met hul nuwe kaarte te help.

Mense het gekla dat bejaardes en gestremdes ure lank in die son moet staan en wag, sonder dat enige toiletgeriewe beskikbaar is.

Hoewel van die mense met leë hande terug huis toe is, is ander bejaardes wat op ander dae in die ry gaan staan het, binne ’n paar uur gehelp.

Diegene wat nie hul nuwe swart kaarte teen die spertyd het nie, sal steeds hul toelae ontvang, maar hulle sal hul naaste poskantoor moet besoek om toegang tot hul geld te kry.

Die goue kaarte sal ná 20 Maart nie meer werk nie.

Die departemente het gesê hulle werk daaraan om dringend meer mense beskikbaar te maak om met die oorskakeling te help.

Mobiele kantore sal na afgeleë gebiede gestuur word sodat soveel mense as moontlik gehelp kan word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article