Die 16-jarige JP van Ross, wat verlede week in ’n sandgat geval en versmoor het, sal hierdie week begrawe word.
Die plaaslike munisipaliteit meen egter onwettige opgrawings en sanddiefstal is ’n ernstige oortreding.
JP en sy broer, Sheldon, het Maandag (20 Febraurie) ghoemavye (’n vyeplant waarvan die vrug geëet word) gaan pluk en toe op die oop stuk veld in Hexpark gaan sit om dit te nuttig.
Volgens die seuns se ma, Nicolet, het hulle gereeld ná skool in die omgewing gespeel.
Die omgewing reg agter Edenskool en die Maranata-Christen-gemeente in Hexpark is ook onlangs geskraap en deur die Breedevallei-munisipaliteit (BVM) opgeknap nadat talle klagtes van onnetheid, rommelstrooiery en gate aangemeld is. Standard het ook al talle kere berig oor verkragtings, rooftogte en ander misdade op hierdie stuk grond.
Die seuns het na bewering in ’n oop gat gaan sit. Volgens Nicolet het Sheldon gesê hulle het stemme gehoor en die volgende oomblik het ’n hoop sand om hulle neergestort. Sheldon kon betyds uitkom, maar JP is onder die sand vasgevang.
Sheldon het na bewering alles probeer om sy broer uit die sand, wat weens die reënval nat geword het, te red. Hy het toe gehardloop om hulp te kry, maar alle pogings was onsuksesvol en JP is by die plaaslike hospitaal dood verklaar.
Dit blyk egter dat die gat, wat reg agter Edenskool geleë is en waarin JP sy lewe verloor het, ontstaan het weens onwettige sandopgrawings van mense in die gemeenskap wat hierdie sand vir bouprojekte gebruik.
Die Breedevallei-munisipaliteit (BVM) veroordeel hierdie dade ten sterkste.
“Die BVM neem kennis van hierdie tragiese voorval en dra ons diepgaande meegevoel aan die bedroefde familie oor, maar ons rekords toon dat geen klagtes aangaande die beweerde ongemagtigde uitgrawings in die huidige boekjaar aangemeld is nie.
“Desnieteenstaande veroordeel die munisipaliteit sulke gevalle ten sterkste en beklemtoon ongemagtigde uitgrawings in openbare gebiede is steeds onwettig en strafbaar,” verduidelik Hannelie Botha, ’n woordvoerder van die BVM.
Botha sê hierdie gedrag is teen die wet kragtens die verordening vir munisipale openbare geriewe.
“Die verordeninge stipuleer dat niemand grond, sand of klip by openbare geriewe mag uitgrawe of organiese of anorganiese voorwerpe mag verwyder nie, behalwe met goedkeuring.
“Op grond hiervan word lede van die gemeenskap aangemoedig om gevalle van vermeende onwettige uitgrawings by openbare geriewe aan te meld, aangesien dit die beste manier is om oortreders te vervolg.”
JP word Sondag (5 Maart) begrawe.
Hy sou vandeesweek sy 17de verjaardag gevier het.





