Een van Standardse mees geliefde koerantverkopers, Clive Paulse (49), is skielik oorlede.


’n Bekende en geliefde gesig wat elke Donderdag op sy pos was om koerante te verkoop, is skielik oorlede.

Clive Paulse (49), een van Standard se bekendste koerantverkopers, is op 7 Augustus dood in sy woning in Roodewal aangetref.

“Ons weet nie presies waaraan hy oorlede is nie. Hy was nie siek nie – so, dit is vir ons ’n groot skok,” vertel sy.

“Ons het hom net Sondag dood in sy huis gekry en sy doodsertifikaat wys hy is aan natuurlike oorsake dood,” vertel sy oudste suster, Charmaine Snyman, aan Standard.

Sy sê sy dood laat ’n groot leemte in die familie.

“Hy was baie geliefd en eintlik altyd vriendelik. Hy het sterk menings gehad en het altyd hard gepraat, maar was baie slim en uitgesproke.”

Paulse het op 17-jarige ouderdom saam met sy pa en broer, ook koerantverkopers, begin werk deur elke week die Standard aan lesers in die dorp te verkoop. Sy bestuurder, Xenny Baird, sê Paulse was ’n hardwerkende man.

“Hy het selfs in wind en weer gaan staan. Sy geld was altyd reg en hy was baie betroubaar. Hy was in my oë een van die bestes. Hy het sterk menings gehad en altyd opgestaan vir dit waaraan hy glo. Hy was nes sy pa en sy broer lief vir wat hulle gedoen het. Niks was ooit te veel vir hom nie. Hy het ook nooit met leë hande huis toe gegaan nie – mense het altyd vir hom iets gegee. Soms het hy sommer met sakke klere of kos huis toe gegaan ook nog,” voeg Baird by.

’n Ander naasbestaande, Dominicia Paulse, vertel dat hy mense soms kwaad sou maak as hy so hard praat, maar dit is iets wat sy waardeer het.

“Hy het als met passie gedoen. Hy het dalk hard gepraat, maar hy was uitgesproke en kon met enigeen oor die weg kom. Ons mis hom reeds vreeslik baie. Sy mammie vat die nuus nie te goed nie, maar ons sal hierdeur kom.”

’n Vriend van Paulse, Martiens Cupido, wat ook in Roodewal woon, sê Paulse sou sy laaste vir ander gee, solank hy net kon help.

“Hy wou altyd ander net help. Hy sou altyd deel, al het sy self soms min gehad. Rus sag, my vriend.”

Paulse was ongetroud, maar het sowat drie jaar gelede die liefde van sy lewe aan die dood afgestaan.

Hy is Saterdag 13 Augustus uit sy huis in Roodewal begrawe.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article