Dihan van der Walt is in ’n rugbytoerspan wat na Maleisië gaan, opgeneem. Foto:

Credit: SYSTEM

’n Belowende rugbyspeler met ’n blink toekoms het ’n wyle gelede verneem dat hy opgeneem is in ’n interkontinentale span wat aan ’n 10’s-rugbytoernooi in Maleisië gaan deelneem.

Die 24-jarige losvoorspeler Dihan van der Walt, wat sy ding gewoonlik op die rugbyveld ewe gemaklik op nr. 8 as flank doen, is oorspronklik van Heidelberg, maar het aan die Hoërskool Swellendam gematrikuleer, waar hy hom destyds al as ’n kranige rugbyspeler met ’n blink toekoms bewys het.

Hy het hom in 2021 in Worcester bevind, waar hy onmiddellik by die Worcester Villagers aangesluit en vinnig opgang gemaak het. Hy het vanjaar sy vaardigheid by een van WP se Grootuitdaagklubs, Tygerberg, getoets, waar hy saam met nog ’n oud-Villaspeler, Zeke Jansen, gou met sy besielende en inklimspel in die hart van die Tygerberg-ondersteuners ingekruip het. Dit was juis terwyl hy aan die Paas-toernooi as lid van die Tygerbergspan in Saldanhabaai deelgeneem het dat hy met sy balvaardighede beïndruk het en later in die span opgeneem is wat van 8 tot 19 November in Maleisië in ’n internasionale 10’s-toernooi gaan deelneem.

Dihan sal doer in die vreemde gelukkig nie heeltemal “uit” voel nie, want twee van sy spanmaats in dié toernooi is ook van Worcester en albei is uitblinker-agterspelers van Young Hamiltons, naamlik Claudio Matolla en Riyaaz Pietersen.

Om die droom egter te laat realiseer, moet die spelers elkeen meer as R20 000 elk bybring. Dihan is intussen kliphard besig met geldinsameling om sy droom vlerke te gee. Dit gaan egter maar sukkel-sukkel. Derhalwe vra Dihan as daar instansies of individue is wat ’n bydrae wil lewer om dit te laat realiseer, om met hom kontak te maak.

Sy kontakbesonderhede is: Dihan van der Walt by: 062 376 9504. Sy bankbesonderhede is Capitec Bank: 1554393238.

Elke skenking sal met groot dank erken word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article