Chantelle Matthews en Derick Meyer van Worcester is onlangs in ’n slenter gevang, waarin hulle R20 000 vir hul troue verloor het.


Elke bruid droom oor haar groot dag, maar wat doen jy as jou groot dag in jou grootste nagmerrie verander?

Vir Chantelle Matthews (37) en Derick Meyer (36) van Worcester het dié droom van ’n perfekte troue in ’n nagmerrie ontaard toe hulle uit bykans R20 000 bedrieg is.

“Ons albei was al getroud en ons het mekaar in ’n moeilike tyd in ons lewe gevind. Ons het verloof geraak en geweet ons wil iets spesiaals doen, maar ons albei werk oral in die land en reis gereeld vir ons werk, wat beteken ons tyd is maar beperk. Dit is waarom ons besluit het om die hulp van kundiges in te span.”

Chantelle het ’n advertensie op Facebook gesien van ’n maatskappy met die naam “WeDo Wedding and Events” en deur hul foto’s gegaan. Sy was mal oor hul styl en het hulle dadelik gekontak.

“Die vrou was baie vriendelik en het heeltyd met ons in kontak gebly. Sy het verskeie idees gestuur en haar assistent, Bongi, gestuur om ons ’n venue buite Paarl te wys,” vertel die paartjie.

Bongi het hulle na die veld tussen ’n magdom bome gevat en hulle het verlief geraak op die uitsig. Dit was perfek en net wat hulle wou hê.

“Ons het dit duidelik gemaak dat ons 60 gaste wil nooi en ons begroting sowat R50 000 vir alles ingesluit is. Hulle het vir ons spyskaarte gestuur, idees, foto’s en kleurskema’s, en alles was perfek. Ons moes op 14 Augustus R20 000 as deposito aan hulle oorbetaal om te verseker dat ons datum vir 19 November vas is. Ons was so opgewonde.”

Die paartjie het toe dadelik die deposito betaal en nog die aand ’n bottel vonkelwyn geniet om dit te vier. Alles vir hul droomtroue was op koers.

Dié gevoel het nie lank gehou nie.

“Ek het hulle ’n dag later gekontak om op te volg of die betaling reg is en om uit te vind wat nou verder moet gebeur. Die eienaar het my ingelig dat hulle besig is met ’n groot funksie en eers die volgende week met my in verbinding sal tree. Ek het dit so aanvaar en gewag vir kommunikasie.

“Toe ek oor die naweek vir my sussie van hul foto’s wou wys, toe merk ek op hulle blad bestaan nie meer nie. Die rooi ligte het dadelik afgegaan,” verduidelik Chantelle aan Standard.

Hulle het dadelik boodskappe gestuur en probeer bel. Tot vandag toe bestaan nie een van die nommers meer nie. Die e-posse word beantwoord met ’n boodskap wat stel dat die betrokke e-posadres is nie meer beskikbaar nie.

“Ons is verpletterd. Ons het ’n klagte in die Kaap aangemeld aangesien ons onthou dat Bongi (of wat ook al haar regte naam is) se voertuig in die Bellville-omgewing geregistreer is. Ons voel so dom. Ons moes ons huiswerk beter gedoen het.”

In hierdie stadium het die paartjie hul troue vir eers aangeskuif, maar is ook steeds die R20 000, asook ’n “konsultasiefooi” van R2 500 kwyt.

“Maak seker wie jy gebruik. Kyk die kat mooi uit die boom en moenie val vir mooi prentjies en mooi praatjies nie,” waarsku hulle.

Standard het ook probeer om hierdie maatskappy op te spoor en self probeer om die nommers te skakel, maar kon ook nie deurkom nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article