Indien van julle dalk spesiale stemme vir Stemdag benodig, is dit nou die laaste kans wat julle het om nog jul aansoeke om ’n spesiale stem tuis, of vir spesiale stemme, by die stemlokaal te doen; en indien van julle nog op ander plekke geregistreer is as die plek waar jy tans woon (bv. nog in Johannesburg geregistreer, maar woon nou in Worcester), moet julle om ’n artikel 24-stem aansoek doen.

Daar is verskillende aansoekprosesse vir die twee verskillende soorte spesiale stemme:. SPESIALE STEMME TUIS: Aansoeke is slegs vir diegene wat erg bejaard, gestremd of bedlêend is, waartydens die OVK dan op die twee dae voor Stemdag (m.a.w. Maandag 27 en Dinsdag 28 Mei tussen 08:00-17:00) na so iemand se huis uitkom, sodat hy of sy tuis kan stem. Aansoeke hiervoor geskied (1) aanlyn; of (2) deur die indiening van ’n fisieke “IEC Appendix 1A”- papiergebaseerde aansoekvorm by die OVK. Dit is nie moontlik om vir ’n spesiale stem tuis per SMS aansoek te doen nie. Sluitingsdatum: 3 Mei

of. SPESIALE STEMME BY STEMLOKAAL: Vir enigeen wat op Stemdag (29 Mei) uitstedig gaan wees en dan op enige van die twee dae voor Stemdag (m.a.w. Maandag 27 en Dinsdag 28 Mei tussen 08:00-17:00) self solank voor die tyd by hul stemlokaal wil gaan stem. Enigeen kwalifiseer vir ’n spesiale stem by die stemlokaal indien jy op stemdag uitstedig gaan wees, en jy hoef nie ouer as 60 jaar te wees om hiervoor te kwalifiseer nie. Aansoeke hiervoor geskied (1) aanlyn; of (2) deur die indiening van ’n fisieke “IEC-Appendix 1B”- papiergebaseerde aansoekvorm by die OVK; of (3) deur jou ID-nommer na die OVK te SMS by 32249 (R1 per SMS). Sluitingsdatum: 3 Mei.. AANSOEK OM OP ’N ANDER PLEK TE STEM AS DIE PLEK WAAR JY GEREGISTREER IS: “IEC APPENDIX ARTIKEL 24”-VORM

Die algemene beginsel is dat jy slegs kan stem by die stemlokaal waar jy geregistreer is. Dit is egter moontlik om op Stemdag (29 Mei) op ’n ander plek te stem as die plek waar jy geregistreer is, maar dan sal jy voor die tyd vir ’n artikel 24-stem moet aansoek doen.

Enigiemand wat op Stemdag uitstedig gaan wees as gevolg van werk of vakansie, of wat nagelaat het om hulle tydens die laaste registrasienaweek by hul nuwe adres te herregistreer, kan vir ’n artikel-24-stem registreer.

Só iemand sal dan byvoorbeeld op Stemdag in Worcester kan stem, al is hulle in Johannesburg geregistreer.

Die sluitingsdatum hiervoor is Vrydag 17 Mei.. AANSOEKE OM IN BUITELAND TE KAN STEM HET REEDS GESLUIT

Aansoeke vir oorsese Suid-Afrikaners om in die buiteland te kan gaan stem, het reeds op 22 April gesluit. Suid-Afrikaners wat hiervoor aansoek gedoen het, moet dan op 17 en 18 Mei fisiek by ’n Suid-Afrikaanse ambassade, hoëkommissariaat of ere-konsulaat gaan stem.

Indien enigiemand onseker is, kan al hierdie inligting op die OVK-webwerf verkry word, of andersins kan jy jou plaaslike wyksraadslid kontak, of die plaaslike OVK-kantoor by Riebeeckstraat 51 gaan besoek en die nodige inligting daar kry en die nodige aansoekvorms daar invul.

Dit is veral belangrik dat ons almal moet seker maak dat mense wat ons ken wat erg bejaard, gestremd of bedlêend is, vir ’n spesiale stem tuis geregistreer is; en dat almal wat nog op ander plekke geregistreer is as die plekke waar hulle tans woon (byvoorbeeld nog in Johannesburg geregistreer, maar woon nou in Worcester), om ’n Artikel 24-stem moet aansoek doen, sodat hulle by hul naaste stemlokaal kan gaan stem.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article