Breedevallei-munisipaliteit se burgemeester, Antoinette Steyn. Foto:


Die onlangse reekse koue fronte en storms wat die Wes-Kaap getref het, was ongekend in hul intensiteit en omvang.

Nadat die nuus bekend geword het dat die reekse koue fronte op pad was, het munisipale spanne reeds vroeg aan die werk gespring om die nodige voorbereidingsplanne op te stel. Alle senior personeel het dadelik aan die werk gespring om voorbereidings te tref om al die nodige gereedskap, hulpbronne en materiaal op ’n daaglikse basis in die aanloop tot die storm te bekom.

’n Afdeling wat besonder erg deur baie klagtes getref is, was die elektrisiteitsafdeling. In die tydperk tussen 10 en 17 Julie het die elektrisiteitsafdeling 527 klagtes ontvang oor persele wat elektrisiteitsonderbrekings ervaar het. Hierdie massiewe getal klagtes kan verdeel word in 39 gebiedsfoute en 488 enkelklagtes.

Gebiede soos De Doorns, Rawsonville en Touwsrivier is weer kwaai deur onderbrekings in Eskom se hooflynelektrisiteitstoevoer getref, terwyl woonbuurte in Worcester, soos Johnsonspark, Langerug, Meiringspark, Transhex en Worcester-Wes weer kwaai deur skade aan die munisipale elektrisiteitsverspreidingsnetwerk getref is.

Net sowat 20 amptenare van die elektrisiteitsafdeling moes daaraan werk om hierdie klagtes oor elektrisiteitsonderbrekings alles reg te stel. Die amptenare is reeds voor die tyd in spanne opgedeel, en daar was vyf munisipale spanne wat uit twee amptenare elk bestaan het. Terselfdertyd moes die tekort aan personeel deur kontrakteurspanne aangevul word sodat daar gouer by al die klagtes uitgekom kon word.

Daar was vier kontrakteurspanne wat bestaan het uit twee werkers elk. Die munisipale spanne het net op gebiedsfoute gefokus, terwyl die kontrakteurspanne hoofsaaklik op enkelfoute gefokus het. Bykomend hiertoe, het ’n aparte kontrakteurspan, bestaande uit 15 werkers, op die herstel van Transhex se elektrisiteit gefokus.

Die herstel van Transhex se elektrisiteitstoevoer was ’n groot uitdaging, want die hooflyn na Transhex, wat ondergronds loop, het weggespoel. Gevolglik moes ’n nuwe oorhoofse elektrisiteitslyn na Transhex gebou word om die ondergrondse lyn, wat weens die oorstroming van die Hexrivier weggespoel het, te vervang.

Die onderskeie munisipale departemente en afdelings het mekaar reg deur hierdie moeilike tydperk wonderlik ondersteun. Die parke-afdeling en die waterafdeling het gehelp met masjiene vir uitgrawings om te help om die oorhoofse lyn na Transhex te bou, terwyl die brandweer op sy beurt gehelp het om die oorhoofse geleiers oor die Hexrivier se malende watermassa te kry.

Ten einde by al die elektrisiteitsklagtes uit te kom, moes al die spanne lang ure werk, en die werksure was tussen 08:00 tot middernag op ’n daaglikse basis gedurende die tydperk van 10 Julie tot 15 Julie.

De Doorns, Rawsonville en Touwsrivier het weer uitdagings van ’n ander aard ervaar met onderbrekings in Eskom se hooflyntoevoer. Met die sterk wind was daar baie uitdagings vir Eskom met lyne wat teen mekaar gewaai het, strukture wat op die grond geval het, en ook bome wat teen lyne vasgewaai of daarop geval het. Weens die skade aan Eskom se infrastruktuur moes Eskom sy herstelwerk prioritiseer en eers aan hoogspanningsnetwerke werk voordat hy aan laagspanningsnetwerke kon begin werk.

Die publiek word nie net bedank vir hul geduld tydens die herstelwerk nie, maar ook vir die volledige wyse waarop hulle klagtes aangemeld het. Die publiek se ondersteuning is in sulke krisistye veral belangrik as dit by foutopsporing kom, want wanneer klagtes volledig aangemeld word, help dit dat die oorsaak van die fout gouer opgespoor kan word. Dit help dus altyd die elektrisiteitsafdeling baie as die publiek die spesifieke adres kan gee van waar presies (1) hulle vonke gesien het toe oorhoofse drade aan mekaar geraak het; (2) waar boomtakke aan ’n draad gekap het; of (3) waar ’n boom omgewaai en op drade geval het.

Baie dankie aan al die amptenare van alle munisipale afdelings wat in die gure weer so hard en lang ure gewerk het om ons te help dat ons almal kan veilig wees en elektrisiteit het. Julle het voorwaar gewys dat die Breedevallei ’n omgeevallei van uitnemende dienslewering is – ons is trots op julle!

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article