Die 2024 nasionale en provinsiale verkiesing is om die draai en dit is belangrik dat almal moet weet wat om op stemdag (29 Mei) te verwag en hoe die stemproses vanjaar gaan werk.
Dit is eerstens belangrik om te verstaan dat daar vanjaar vir nuwe verteenwoordigers op nasionale vlak (in die Nasionale Vergadering) en op provinsiale vlak (in die Wes-Kaapse Provinsiale Parlement) gestem gaan word.
Hierdie is dus nie ’n plaaslike munisipale verkiesing nie – dit kom eers oor twee-en-’n-half jaar, in 2026.
Soos julle weet is daar in onlangse tye groot veranderings aan die Suid-Afrikaanse Kieswet gemaak, wat onder meer (1) voorsiening vir onafhanklike kandidate maak om in vanjaar se nasionale en provinsiale verkiesing te staan; en (2) dat ons daarom ’n ekstra stembrief op stemdag gaan kry.
In die verlede het ons in ’n nasionale en provinsiale verkiesing net twee stembriewe gekry: een vir die Nasionale Vergadering en een vir die Wes-Kaapse Provinsiale Parlement.
Nadat die Kieswet gewysig is, kry ons nou twee stembriewe vir die Nasionale Vergadering, en een vir die Provinsiale Parlement.
Ons kry dus nou ’n ekstra stembrief vir die Nasionale Vergadering.
Daar is 400 setels in die Nasionale Vergadering. Vanweë die nuwe wetgewing is 200 van daardie setels net vir politieke partye (kompenserende setels) en die ander 200 vir politieke partye en onafhanklike kandidate (streek-na-nasionaal-setels).
Stembrief 1: Nasionale kompenserende stembrief
Die eerste stembrief vir die Nasionale Vergadering is die kompenserende stembrief wat net deur politieke partye betwis word.
Hierdie stembrief is dieselfde oor Suid-Afrika heen en bevat die name van die 52 partye wat aan vanjaar se verkiesing gaan deelneem.
Elke party sal sy (1) partynaam, (2) gesig van die partyleier, en (3) partylogo op hê, waaragter die kieser dan sy kruisie kan maak.
Stembrief 2: streek-na-nasionale-stembrief
Die tweede stembrief is die Streek-na-Nasionale-Stembrief en dit is om LP’s vir die Nasionale Vergadering van die nege provinsies te verkies.
Elke provinsie sal ’n unieke streekstembrief hê en die doel daarvan is om seker te maak die belange van die provinsie word in die Nasionale Vergadering verteenwoordig.
Politieke partye en onafhanklike kandidate sal op die streekstembrief verskyn en in die Wes-Kaap sal daar 35 partyname en onafhanklike kandidate se name op hierdie stembrief verskyn.
Elke party sal sy (1) partynaam, (2) gesig van die partyleier, en (3) partylogo op die stembrief hê.
In die geval van onafhanklike kandidate sal die kandidaat se gesig en die woord independent langsaan verskyn.
Stembrief 3: Wes-Kaapse provinsiale parlement
Die derde stembrief is vir die verkiesing van die Wes-Kaapse Provinsiale Parlement en is vir politieke partye en onafhanklike kandidate.
Op hierdie stembrief sal daar 29 name verskyn.
Logistieke reëlings op stemdag
Dit is belangrik dat kiesers op die volgende reëlings vir stemdag let:
1. Op Woensdag 29 Mei is die stemlokale oop van 07:00 tot 21:00.
2. Jy kan slegs stem met jou ID of tydelike ID;
3. In die verlede kon ’n mens tydens ’n nasionale en provinsiale verkiesing by enige stemlokaal gaan stem. In hierdie verkiesing kan jy slegs stem by die stemlokaal waar jy geregistreer is.
Om te bepaal waar jy geregistreer is, SMS jou ID-nommer na die OVK se registrasienavraagdiens by 32810, en jy sal dan ’n SMS ontvang wat vir jou sal sê presies waar jy geregistreer is.
4. Maak seker dat die stembriewe wat aan jou uitgereik word die OVK se stempel agterop het, want anders gaan dit tydens die telproses uitgegooi word, omdat dit ’n bedorwe stembrief is.
5. Jy kan vir iemand vra om jou te help as jy onseker is hoe om te stem.
6. As jy ’n fout op die stembrief gemaak het, vra vir die OVK-beampte dat daar ’n nuwe stembrief aan jou uitgereik word.
7. Maak ’n enkele kruisie binne die blokkie agter die naam van die party van jou keuse.
Moenie meer as een kruisie per stembrief maak nie.
As daar enige navrae in dié verband is, is julle welkom om na die OVK se webwerf te gaan by www.elections.org.za.
Daar is baie inligting oor die verkiesing en wat presies kiesers op stemdag kan verwag.
Onthou, elke stem tel, so moenie net alleen op jou eie na die stemlokaal gaan op stemdag nie – vat jou ma, pa, kind, buurman, buurvrou, vriend of huurder saam met jou.
Elke stem maak ’n verandering – en saam maak elke stem ’n verskil!





