Uit die pen van die Burgemeester

Breedevallei-munisipaliteit se burgemeester, Antoinette Steyn, wens alle inwoners van die vallei ’n geseënde Paasfees toe.


Met Paasfees lei alle paaie na die Breedevallei met die Nekkies-musiekfees en die jaarlikse Worcester-Paasbasaar wat op Worcester plaasvind.

Die Nekkies-musiekfees is vir die eerste keer in 2018 gehou en het sedertdien gegroei tot een van die grootste feesvieringe in die Wes-Kaap. Verlede jaar is dié fees oor twee dae gehou – op Paassondag en Paasmaandag. Dit het ’n skare van meer as 10 000 mense gelok.

Hierdie jaar sal ons dié fees oor vier dae van Vrydag 29 Maart tot Maandag 1 April aanbied. Ons vooruitskatting is ’n bywoning van 15 000 mense per dag.

Hierdie jaar word ons inspirasie vir ons geleenthede getrek uit Adam Small se kultureel betekenisvolle gedig “Kô, lat ons sing”, met ’n unieke draai.

Ons leuse vir een van die belangrikste dae op die Christelike kalender, Goeie Vrydag, 29 Maart, is “Kô, lat ons juig” – met een van die grootste Gospelvertonings in die Wes-Kaap.

Die tema vir Saterdag 30 Maart is “Kô, lat ons jive”, met die beste partybands en DJ’s.

Sondag 31 Maart is ons tema “Kô, lat ons chill” met die beste jazz en “ou- skool”-vibe.

Laastens, op Maandag 1 April, is ons tema “Kô, lat ons unite”, met die belangrikste gesinsdag met die grootste nasionale en plaaslike kunstenaars.

Op Goeie Vrydag herdenk Christene die kruisiging van Jesus op Golgota. By analogie verwys die naam Nekkies in Afrikaans ook na ’n heuwel, dus sal ons die kruisiging op Golgota by Nekkies herdenk.

Ons sal een van Kaapstad se grootste gospelvertonings hê met bekende Suid-Afrikaanse gospelkunstenaars soos Jonathan Rubain, Worcester se eie Elwira Standili, en veral die ouens van die Jesus Collective met groot kunstenaars soos Ernie Smith en Loyiso Bala, wat gratis optree.

Saterdag bedien ons die jonger gehoor, tesame met ’n mengsel bands vir die ouer geslag en tiener-sensasie-bands en DJ’s. Sondag sal ’n ontspanne Sondag wees met enkele van die beste Suid-Afrikaanse jazz- en ouskoolkunstenaars, en ons kan nie vergeet nie – ons het die legendariese Judy Boucher wat optree.

Maandag bedien ons die hele gesin met bands soos Mi Casa, Early B en Mafikizolo. Benewens hierdie wonderlike hoofkunstenaars het ons ’n uitgebreide lys plaaslike kunstenaars soos Eulanda, Worcester Records, Villa Brown, Lanzo-D featuring Soul, New Strings Dance Band, Mr Mize en Reggie B, om net ’n paar te noem.

Ter aanvulling van die wonderlike musiek is ons opgewonde om aan te kondig dat ons dit ’n paar verstellings hoër lig met ’n paar fantastiese byvoegings!

Ons het ’n ten volle gelisensieerde gebied, met ’n keuse van wyn, boetiekbier, boetiekjenewer en eksklusiewe Kokkele. Feesgangers kan dus hul gunstelingdrankies geniet terwyl hulle hulself in ’n feesatmosfeer dompel!

Maar dit is nie al nie! Ons bied aanhoudende pret met ons pretpark, wat bestaan uit draaimolle en ritte wat mense van alle ouderdomme opgewonde sal maak. Vir die kleintjies het ons ’n toegewyde sagte-speelgebied.

Laat ons ook nie van die kos vergeet nie. Ons verskaffers sal heerlike etes en versnaperings voorsien om al jou hunkerings te bevredig.

Worcester het sy jaarlikse Paasbasaar op Paasmaandag. Dié basaar is deurdrenk in geskiedenis, hoewel dit onduidelik is hoe lank die basaar reeds bestaan. Uit die monde van ons oumas en oupas sal verhale kom van hoe hulle as kinders die basaar geniet het.

Die basaar word deur die Moslem- en Christenkerke van Worcester gereël, waar ons die strate afsluit vir ’n fees van heerlike kos en stalletjies. Dit dien as een van die grootste jaarlikse geldinsamelings vir hierdie gemeenskappe.

Maandag se Nekkies-geleentheid begin eers ná die Paasbasaar. Ons het ’n vennootskap aangegaan met een van Kaapstad se grootste radiostasies, Heart FM, wat in lewende lywe by die basaar en Nekkies met sy Heart Squad sal uitsaai om aan sy gehoor van miljoene te vertel wat in Worcester gebeur.

Hierdie Paasfees lei alle paaie dus na Breedevallei – nooi dus al jou familie en vriende en kom sluit by ons aan!

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article