Die BVM se burgemeester, Antoinette Steyn.Foto:


Die herseël van strate is en bly ’n top-prioriteit vir die Breedevallei-munisipaliteit (BVM). Waar gewone munisipale strate in baie plattelandse dorpe amper onbegaanbaar geraak het vanweë jare lange agteruitgang, bly die BVM daartoe verbind om ons padinfrastruktuur voortdurend in stand te hou, op te gradeer en te vernuwe.

Breedevallei is die derde grootste munisipaliteit in die Kaapse Wynlanddistrik en strek van Rawsonville in die weste tot Touwsrivier in die ooste. Die munisipale padnetwerk bestaan uit ongeveer 320 km teerstrate en ’n verdere 58 km grondpaaie wat onderhou moet word. Die vervangingswaarde van alle munisipale strate is in 2019 op R1,12 miljard geraam. Aan die hand van nasionale standaarde behoort ’n pad met ’n teeroppervlakte elke 10 jaar herseël te word. Teen ’n koste van ongeveer R135 m² vir ’n beraamde oppervlakte van 204 000 m² per jaar, word die koste op R27,54 miljoen per jaar bereken. Om toe te sien dat die Breedevallei se padinfrastruktuur in ’n puik toestand bly, is dit noodsaaklik om jaarliks met die geld tot ons beskikking die nodige herseëlwerk van strate te prioritiseer.

Die BVM het die afgelope jare goed momentum opgebou as dit by die herseël van sy paaie kom, en die idee is om daardie momentum te behou. Indien ’n pad behoorlik herseël is, spaar die munisipaliteit oor die lang termyn baie geld op instandhouding en arbeid, wat dan eerder elders aangewend kan word.

As gevolg van die afstand na De Doorns, Rawsonville en Touwsrivier kos dit meer om instandhoudingswerk aan paaie by hierdie buitedorpe te gaan doen. Gevolglik was daar oor die jare ’n “van-buite-af-binne-toe”-benadering jeens herseëlwerk gevolg, waar herseëlwerk op die dorpe De Doorns, Rawsonville en Touwsrivier voorkeur gekry het.

Oor ’n kwessie van die afgelope sewe jaar is paaie van Rawsonville en Touwsrivier nou bykans almal herseël. Groot vordering is ook al met De Doorns en Worcester se paaie gemaak.

Op ’n plek soos Worcester is etlike strate in voorheen benadeelde gebiede herseël by wyse van die Munisipale Infrastruktuurtoekenning (“Municipal Infrastructure Grant”, MIG) en die Wes-Kaapse regering se Regional Socio-Economic Programme (RSEP)-finansiering, wat gebiedsgebonde is en wat bepaal waar presies die herseëlwerk gedoen moet word. Op hierdie manier is groot dele van Worcester, soos onder meer Avianpark, Esselenpark, Florianpark, Hexpark, Noblepark, Rivierview, Roodewal,Victoriapark en Zwelethemba se strate almal oor die afgelope sewe jaar herseël.

Ten einde die gebiede te dek waar MIG- en RSEP-finansiering nie gebruik kan word nie, het die raad van die BVM ook in onlangse tye jaarliks sekere bedrae vir herseëlwerk in sekere wyke goedgekeur.

Daar is twee maniere waarop BVM se ingenieursafdeling te werk gaan om ’n straat te herseël, en dit is belangrik dat inwoners verstaan hoe dit werk:. BVM-ingenieursafdeling se beplanning:

Die ingenieursafdeling doen gereeld opnames van die standaard van al die Breedevallei se paaie, en van hul kant af het die ingenieursafdeling sy eie beplanning van watter strate herseël moet word. In so ’n geval word verskeie faktore in ag geneem, soos onder meer die toestand van die padoppervlakte, aantal slaggate per kilometer, aantal klagtes wat van die publiek oor ’n pad ontvang word, skade wat reënwater aan die onderliggende lae van die pad aanrig wanneer dit deur die boonste verbrokkelde teerlaag na onder syfer, wat dit na raming sal kos om ’n sekere gedeelte pad oor te bou as dit verder agteruit sou gaan, ensovoorts.. Prioritisering deur wykskomitee op die wyk se GOP-lys:

In sy beplanning vir watter paaie volgende herseël moet word, laat die ingenieursafdeling hom lei deur die behoeftes wat inwoners jaarliks op sy wyke se Lys van Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP)-behoeftes deurgee. Namate inwoners hul behoeftes deurgee oor watter paaie volgende herseël behoort te word, prioritiseer daardie wyk se wykskomitee dan daardie behoeftes, en gee hulle dan daardie lys van geprioritiseerde behoeftes na die ingenieursafdeling deur. Op hul beurt probeer die ingenieursafdeling om dan so ver as wat met die beskikbare geld moontlik is, daardie paaie te herseël.

Gereelde instandhouding kan sommige strate se lewensduur verleng

Party paaie wat nog nie herseël is nie, se toestand is van so ’n aard dat hulle nog deur gewone, gereelde instandhoudingswerk “gered” kan word en hul lewensduur nog verleng kan word, as slaggate en krake net gereeld opgevul word. Gereelde en deeglike instandhouding is dus nodig om groter uitgawes te voorkom, maar dit help ook net tot op ’n punt, waarna ’n pad se oppervlak nie langer net “gepatch” kan word nie, en herseëlwerk dan benodig word om die ondergrondse lae te beskerm.. Deurgee van klagtes oor slaggate en behoeftes vir herseëlwerk:

Raad vir ’n inwoner wat voel dat die straat voor sy/haar huis instandhouding nodig het?

Die beginpunt is eenvoudig – meld slaggate met hul volledige ligging en adres aan by die 24-uur BVM-Inbelsentrum (“Service Support Centre”) by ssc@bvm.gov.za of by 0860 121212.

Indien ’n straat of pad al so ver beskadig is dat die gewone opvul van slaggate nie meer die probleem oplos nie, maak seker dat daardie straat of pad op jou wyk se GOP-lys van behoeftes kom, sodat jou wyk se wykskomitee daardie behoefte kan prioritiseer en vir die ingenieursafdeling kan deurgee om te evalueer.

As inwoners van die Breedevallei kla sommige van ons gereeld oor die toestand van ons paaie, maar as ons net weer so ’n bietjie om ons en verder in Suid-Afrika uitkom en kyk hoe paaie daar lyk, sal ons weer opnuut die BVM se pro-aktiewe instandhoudings- en herseëlprogram vir munisipale paaie waardeer. Dit is dus op hierdie noot dat ek my opregte dank aan die BVM se paaie- en ingenieurs­afdeling oordra vir die pro-aktiewe, pligsgetroue wyse waarop hulle die Breede­vallei se padinfrastruktuur bestuur.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article