Uit die pen van die Burgemeester

Antoinette SteynFoto:


Veels geluk aan Breedevallei se matrikulante van die Klas van 2023! Julle het goed gedoen en jul prestasie getuig van harde werk en deursettingsvermoë.

Op Touwsrivier het De Kruine Sekondêre Skool goed gedoen met 81,4%. In die Hexvallei het die Hoërskool Hexvallei die beste gedoen met 82,5%. Van die Worcesterse hoërskole het HTS Drostdy die beste gedoen met 99,5% en op Rawsonville het die Hoërskool Goudini 94,6% behaal. Wat vir my tot uiterste dankbaarheid stem, is dat Brandvlei se Jeugsentrum vir ’n tweede agtereenvolgende jaar ’n 100%-slaagsyfer behaal het.

Baie dankie ook aan al die ouers, skoolhoofde en onderwysers vir julle ondersteuning en moed-inpraat.

Aan diegene wat dit nie dié keer gemaak het nie, het ek net een boodskap: Hou aan en probeer weer. Julle weet nou hoe moeilik matriek is en wat dit alles behels, so gebruik nou daardie ervaring wat julle opgedoen het om vir ’n tweede keer te probeer.

Raak betrokke by gemeenskaps­organisasies om jou CV te verbeter

Een van die heel eerste stappe wat julle nou sal moet doen wanneer julle die grootmenswêreld betree, is om ’n aktiewe landsburger te word wat help om Suid-Afrika en die Wes-Kaap te help opbou en om betrokke te raak by projekte wat jou gemeenskap verbeter en ’n positiewe verskil in mense se lewe maak. Of jy nou ná matriek verder gaan studeer of direk gaan werk – daar is vele maniere waarop jy kan help om jou gemeenskap op te bou. Daar bestaan etlike regerings- en private organisasies, asook organisasies sonder winsbejag wat op gemeenskapswerk fokus, hetsy met gemeenskaps­diens, godsdiens, jeug­bemagtiging, in kuns en kultuur, natuur­bewaring, sport, met vroeë kindontwikkeling, asook vroue-organisasies ensovoorts. Raak betrokke by so ’n organisasie in jou vrye tyd. Dit is hier waar jy ervaring en dissipline gaan opbou wat jy eendag op jou CV kan lys. Wanneer werkgewers iemand in ’n pos moet aanstel, kies hulle iemand wat die meeste ervaring het, en dit is juis op só ’n manier wat jy vir jou voornemende werkgewer kan wys watter gebalanseerde en volronde mens jy is.

Deelname aan 2024- nasionale en provinsiale verkiesing

Enige landsburger moet natuurlik ook aktief aan sy/haar land se bestuur deelneem en sy/haar stem tydens openbaredeelnameprosesse en tydens openbare vergaderings laat hoor. Noudat julle die grootmenswêreld betree, is een van jul eerste sosiale verpligtings dat julle moet registreer om in vanjaar se nasionale en provinsiale regeringsverkiesing te kan stem. Die verkiesing se datum moet nog aangekondig word, maar die laaste registrasienaweek is die naweek van Saterdag 3 en Sondag 4 Februarie wanneer jou naaste stemlokaal van 08:00 tot 17:00 vir kieserregistrasie oop sal wees. Anders kan jy ook die Onafhanklike Verkiesingskommissie se kantoor by Riebeeckstraat 51 in Paglande gaan besoek en daar gaan registreer. Al wat jy moet doen, is om jou ID-boek of -kaart saam te neem.

Die lewe ná matriek

Die lewe in die wêreld daarbuite ná matriek is nie maklik nie. Die sleutel tot sukses is om van alle geleenthede gebruik te maak en om nie tyd op aktiwiteite te verspil wat na niks gaan lei nie. Daar is baie geleenthede daarbuite. Soek vir internskappe by sakeondernemings en staatsdepartemente, soek op die internet vir beurse, doen aansoek vir die jaarlikse BVM-burgemeester-beursfonds, en wees bereid om onder te begin en jouself op te werk. In baie gevalle beteken dit ook dat ’n mens bereid moet wees om somtyds gratis te werk of langer ure te werk, net om jou voet in die deur te kry.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article