Breedevallei se hoofdorp, Worcester, is ’n plek wat nie vinnig op een slag uitbrei nie, maar dit is ’n plek wat konstant uitbrei.
Worcester het reeds voor die aanvang van die inperking al vinnig begin groei, maar ná die inperking is dit asof die dorp ongekende ekonomiese vooruitgang ervaar met etlike nuwe ontwikkelings wat soos paddastoele verrys.
Die munisipaliteit word deur die Grondwet, artikel 152, verplig om plaaslike ekonomiese ontwikkeling te bevorder. Elke vyf jaar hersien ons ons BVM- plaaslike ekonomiese ontwikkelingstrategie en die raad het ’n rukkie gelede al die nuwe strategie vir 2022 tot 2027, tesame met ’n Plaaslike ekonomiese ontwikkelings-implementeringsplan, aanvaar.
Die raad het ook onlangs die Plaaslike ekonomiese ontwikkelingsafdeling getaak om ’n beleggingsaansporingsbeleid (“Investment Incentive Policy”) vir die Breedevallei-munisipaliteit te ontwikkel.
Daar is reeds in hierdie verband na voorbeelde van soortgelyke beleide van etlike ander munisipaliteite gekyk ten einde te bepaal wat vir Breedevallei sal werk en wat nie. Wat baie belangrik is, is dat die Breedevallei ’n unieke beleggingsaansporingsbeleid moet hê, wat op Breedevallei se mededingende voordeel moet fokus en moet help om by die munisipale visie van “Suid-Afrika se sorg-hoofstad” (“Care Capital”) aan te sluit deur groen-ekonomiese en omgewingsvriendelike waarde-toevoegende maatskappye in die landbou, dienste, en vervaardigingsektore na Worcester te lok.
In die Wes-Kaap het nog net Kaapstad en George sulke Beleggingsaansporingsbeleide, dus sal Worcester geskiedenis maak as dit die eerste munisipaliteit in die Kaapse Wynlande kan wees wat so ’n beleid aanvaar.
Die munisipaliteit het reeds ’n Grootmaat-infrastruktuurbydraebeleid waarvolgens beleggers ook finansiële bydraes moet maak om die nodige grootmaat-infrastruktuur soos paaie en elektrisiteit-substasies te bou, wat by hul ontwikkelings aansluit.
Die Stadsbeplanningsafdeling het ook onlangs op ’n informele wyse ’n Ontwikkelingsaansoekkomitee (“Development Applications Commitee”) op die been gebring. So ’n komitee help dan ontwikkelaars om hul aansoeke vinnig na te gaan (te “screen”) voordat die aansoek formeel ingedien word.
Sodoende kan tekortkomings in voorgenome ontwikkelingsplanne vinnig en vroegtydig aan ontwikkelaars uitgewys word sodat hulle dit kan regstel voordat hulle hul ontwikkelingsaansoeke formeel indien.
nywerheidsOntwikkelings
’n Baie groot aspek wat in die 2023-’24-begroting aandag geniet, is nywerheids- ontwikkeling.
Die finansiering wat in hierdie begroting aan nywerheidsontwikkeling toegeken word, sal die aanvang van die Avianpark-nywerheidsgebied (agter die hondehokke op die Villiersdorppad) en die Uitvlugt-nywerheidsgebied (agter HexTex en die Rainbow Chickens-fabriekswinkel) ontketen, met die toekenning van die volgende bedrae om die volgende dienste aan te lê:. Vir die Avianpark-nywerheidsgebied se elektrisiteit-, riool-, stormwater- en rioolaansluitings is R1,6 miljoen begroot, asook R14 miljoen vir die nuwe Avianpark-nywerheidsgebied se pompstasie.. Vir die Uitvlugt-nywerheidsgebied se elektrisiteit-, pad-, riool-, stormwater- en rioolaansluitings is R500 000 begroot. Hierby kom die Hoog- en Louis Langestraat-verkeersirkel, wat verkeersvloei van en na die nywerheidsgebied sal help verlig.
Onlangse Groot Ontwikkelings
Met hierdie groot fokus en die skep van ’n geskikte klimaat vir plaaslike ekonomiese ontwikkeling, het ons in onlangse tye etlike nuwe grootskaalse ontwikkelings gesien, soos onder meer (1) die Waardemark-winkelsentrum in Trappesstraat; (2) die Burger King en Nando’s; (3) die etlike ontwikkelings reg aan die bokant van Hoogstraat (ná die gastrokontploffing); (4) die uitbreidings by Breeriviervallei Botteleringskoöp; (5) die nuwe Engen in Rabielaan; en (6) die Zwelethemba Commercial Corridor in Mtwazistraat.
Dan was daar ook die “land infill”-ontwikkelings, waar die munisipaliteit oop stukke grond en leë erwe geïdentifiseer en dit op veiling beskikbaar gestel het vir die publiek om te koop, soos onder meer erwe in Johnsonspark en Meiringspark, asook die ou spoorlynreserwe tussen Roostuin en SAD in Kerkstraat. Hierbenewens is ’n park soos die Murraystraatpark in Paglande (op die hoek van Hoogstraat en die Robertsonpad) onlangs geadverteer om vir ’n 20 jaar-tydperk as sportveld verhuur te word.
Toekomstige Groot Ontwikkelings
Een van die grootste nuwe ontwikkelings wat op pad is, is die nuwe Millhouse op die groot stuk oop grond wat langs Mountain Mill Mall se parkeerterrein se westelike kant lê. Hierdie ontwikkeling gaan uit vyf sakeondernemings bestaan, te wete Sportsmans Warehouse, Outdoor Warehouse, West Pack Lifestyle Shop, Cab Foods en Pet Zone. Hierdie ontwikkeling behoort teen Januarie/Februarie 2024 voltooi te wees.
Werk aan die nuwe Altona-aftree-oord het reeds begin.
Private ontwikkelaars werk aan beplanning vir die nuwe Altona-winkelsentrum, maar ’n aansoek hiervoor is nog nie formeel by die munisipaliteit ingedien nie.
Dan is daar ook nog die Rehabilitasie- en Onkologie-instituut in Combrinckstraat, wat al amper voltooi is. Terselfdertyd het die Wes-Kaapse departemente van openbare werke en gesondheid ook onlangs groot uitbreidings by die Wes-Kaapse Verpleegkollege aan die agterkant van die ou Keeromkoshuis (by die Durban- en Combrinckstraatkruising) aangekondig, wat regdeur tot by Pellsstraat aan die agterkant gaan loop.
Ontwikkelings en beleggings lok verdere ontwikkelings en beleggings. Soos wat ’n mens uit die bostaande voorbeelde kan sien van wat reeds vermag is – en wat nog in die afsienbare toekoms vermag gaan word – het die Breedevallei-munisipaliteit wel daarin geslaag om ’n gesonde klimaat vir ontwikkelings en beleggings te skep. Die Breedevallei het die beskikbare grond en die water om verdere ontwikkelings en beleggings te huisves en – baie belangrik – die politieke wil – om verdere ontwikkelings en beleggings te lok. Laat dit dus die boodskap wees wat vandag hier uitgaan.


