Uit die pen van die burgemeester

Die BVM-burgemeester, Antoinette Steyn.Foto:


Breedevallei se inwoners wys keer op keer in tye van uitdagings en ontberings dat hulle kan saamstaan en ’n verskil kan maak waar dit die meeste saakmaak.

So was dit onlangs weer die geval met die gemeenskap van Spokiesdorp in Rawsonville wat erg deur die reën getref is toe hul informele woonbuurt oorstroom en hul huise en besittings deur die Smalblaarrivier weggesleur is.

Geen Lewensverlies

Die Breedevallei-munisipaliteit se nooddienste het die inwoners betyds meegedeel dat hierdie laaggeleë woonbuurt, wat in ’n vloedvlakte is, gaan oorstroom en dat inwoners dié gebied moet ontruim.

Dié flink optrede van die nooddienste, wat nou met die gemeenskap saamgewerk het, het verseker dat geen lewensverlies gely is nie.

Groot dank is verskuldig aan die VG-kerk Goudini vir tydelike huisvesting.

Deur die bemiddeling van Wyk 20 se wykraadslid, Aron Pieters, kon die vloedslagoffers na die VGK Goudini se saal in Rawsonville geneem word om tydelik daar gehuisves te word. ’n Besondere woord van dank gaan aan hierdie gemeente vir die huisvesting en die gekookte etes wat hulle verskaf het.

Bystand van BVM-Behuisingsafdeling

BVM se behuisingsafdeling het ook finansiering vir die voorsiening van gekookte etes beskikbaar gestel. BVM se nooddienste kon dadelik 175 matrasse, 80 komberse asook kospakkies vir elke gesin voorsien. Hierna het die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit 150 komberse voorsien.

Bystand van Nie-Regeringsorganisasies en Boederygemeenskap

Etlike nie-regeringsorganisasies het ook ingespring om te help, en die Al-Imaad Foundation het 112 komberse, 64 higiënepakkies en 61 “hoodies” vir kinders geskenk. Gift of the Givers het drie vragmotors vol nie-bederfbare produkte soos rys, blikkieskos, meel, water en nog matrasse en komberse gestuur.

Plaaslik het Ravol Baadjies, ds. Malcolm James, Gavin Smit, Felicity en Joseph Philips, Muriel Elbrink, Sandra Simon, Welmay Botha en hul spanne ingespring en skenkings van die plaaslike boerderygemeenskap en inwoners gekoördineer en etlike bakkievragte klere en kos aan die vloedslagoffers geskenk.

Besondere bystand en skenkings is ook van Badisa ontvang. Die departement van maatskaplike welsyn sal binnekort inbeweeg om verdere bystand, soos onder meer die uitreik van ID’s, aan die slagoffers te verleen. Intussen gaan Gift of the Givers voort om verdere bystand aan slagoffers in ander dele van die Breedevallei te verleen.

BVM Joint Operations Centre (‘JOC’)

Tot onlangs was BVM se “Joint Operations Cente” (JOC) besig om verdere bystand en skenkings aan die Spokiesdorp-vloedslagoffers te koördineer. Die JOC het ook met onder meer die SA Menseregtekomissie en die kantoor van die Wes-Kaapse premier geskakel ten einde hulp en bystand te koördineer.

Ondersoek na Ramptoestand

Volgens ’n raadsbesluit moes die BVM JOC met die direkteur van strategiese dienste vergader om te oorweeg of die verklaring van ’n plaaslike ramptoestand haalbaar is. Hulle het op 21 Junie vergader en tot die gevolgtrekking gekom dat ’n plaaslike ramptoestand nie op daardie tydstip nodig was nie, aangesien al die huidige maatreëls ingevolge die Wet op Rampbestuur 57 van 2002, artikel 55, reeds deur die munisipaliteit getref is. Hierdie situasie word egter steeds daagliks geëvalueer namate weerpatrone verander. Die BVM-brandweerhoof en JOC-voorsitter, Theo Botha, is ook in die Distrik-JOC waar gelokaliseerde kwessies bespreek word.

Afsluiting

Breedevallei staan bekend as Suid-Afrika se “Care Capital”, en die wyse waarop die breë gemeenskap onmiddellik ingespring het om die gemeenskap van Spokiesdorp te help, weerspieël dit.

Indien enigiemand steeds Spokiesdorp se inwoners wil bystaan, is hulle welkom om die onder-burgemeester van die Breedevallei-munisipaliteit, Juben von Willingh, by 073 533 6653 of jvonwillingh@bvm.gov.za te kontak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article